Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Deelnemers aan konferensie baat by terugvoering en interaksie
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 13/10/2017

Konferensies soos die jaarlikse Streeknavorsingskonferensie vir Opvoedkunde-studente (ESRRC) het groot waarde en navorsers, studente en studieleiers behoort aangemoedig te word om dit by te woon.

Dit is die mening van dr. Audrey Wyngaard wat die konferensie, wat in September deur die Universiteit Stellenbosch aangebied is, in haar kapasiteit as adjunkdirekteur en navorsinganalis in die Navorsingdirektoraat van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) bygewoon het.

Dié konferensie voorsien 'n kollegiale ruimte aan nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van Kaapstad (UK), die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT), met navorsingsbelange in die onderwys, om hul navorsing en onvoltooide werk te deel.

“Ek gee vir navorsers toestemming om navorsing in skole van die WKOD te onderneem. Ek lees hul navorsingvoorleggings en evalueer hul navorsingversoeke. By die konferensie kry ek die geleentheid om die navorsers en die studieleiers te ontmoet en gesprekke met hulle te voer en meer uit te vind oor die vordering van hul navorsingstudies," het dr. Wyngaard gesê.

Lynne Herrmann, 'n deeltydse meesterstudent aan KSUT en die persoon verantwoordelik vir die professionele ontwikkeling van onderwysers in een van die onderwysvakbonde, was dankbaar vir die geleentheid om haar navorsing aan te bied en terugvoering te ontvang.

Sy het ook die interaksie met medestudente en akademici waardeer.

“Iets wat regtig vir my uitgestaan het, was die 'gelykheid' tussen studente en lektore. Die benadering van die lektore was baie positief en opbouend," het sy bygevoeg.

Volgens Nicola van der Westhuizen, 'n PhD-student aan die US, was dat 'n wonderlike ondervinding om die ESRRC by te woon.

“Ek het die geleentheid gehad om waardevolle terugvoering rakende my navorsing te kry."

Phumla Kese van die Departement Kurrikulumstudies aan die US het gebaat by die netwerkgeleenthede met kollegas in haar veld by ander instellings.

Twee werksessies – een oor die skryf van abstrakte en een oor aanbiedingsvaardighede – is in Julie en Augustus aangebied om studente te help met hul voorbereiding vir die konferensie, sowel as met hul nagraadse reis.

Prof. Maureen Robinson, professor in die Departement Kurrikulumstudies aan US en 'n lid van die organiseringskomitee, meen die konferensie het ongetwyfeld sy doel bereik, naamlik om 'n nuwe generasie onderwysvakkundiges te ondersteun en te bou. Sy het bygevoeg hoe belangrik dit is dat alle universiteite die konferensie onder hulle nagraadse onderwysstudente moet aanbeveel.

“Die ESRRC verskaf 'n platform waar nuwe idees met veiligheid onder medestudente getoets kan word en waar hulle kan oefen ​om konsepte, metodologieë en bevindinge te motiveer en te verdedig," het sy bygevoeg.

Die tema van die konferensie – “Onderwys in 'n Era van Dekolonisering en Transformasie: Die Stem van Studentenavorsers" – het direk ingeskakel by die 2017-tema van die Suid-Afrikaanse Onderwysnavorsingsvereniging (SAERA) se konferensie wat van 23-26 Oktober in Port Elizabeth gaan plaasvind. Dit is om die boodskap uit te stuur dat die studentekonferensie deel van die nasionale prentjie is.

Volgende jaar se konferensie sal deur UWK georganiseer word en voorbereidings is alreeds op dreef.