Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aansoeke ingewag van studente wat in 2018 nuwe MSc in Voedsel- en Voedingsekerheid aan die US wil volg
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 14/09/2017

Skryf nou in om in 2018 hierdie nagraadse kursus oor kwessies en beleid rondom kos en voeding te volg

'n Ontwikkelaar van nuwe kosprodukte, 'n onderwyseres en 'n voedingskundige is deel van 'n groep baanbrekerstudente wat die eerstes is om die nuwe MSc-program in Voedsel- en Voedingsekerheid aan die Universiteit van Stellenbosch (US) te volg. Die program het ten doel om beleidmakers en praktisyns in verskillende sektore te help om meer ingeligte besluite te maak oor kwessies rondom voedselsekuriteit en kosproduksie. Dit neem ook aspekte rondom gesondheid in ag, en die rol wat 'n gebalanseerde dieet daarin speel.

Die eerste groep van nege studente het hul studies aan die begin van 2017 begin. Dit strek oor twee jaar. Inskrywings word tans ingewag van studente wat die program vanaf 2018 wil aanpak.

Kwessies rondom voedsel- en voedingsekerheid kan kompleks wees en is dikwels multidissiplinêr van aard. In hoofsaak gaan dit oor mense se lewensgehalte. Die MSc-kursus bied daarom 'n oorsig oor sosio-ekonomiese toestande, die soms uiteenlopende behoeftes van stedelinge en mense wat op die platteland woon, en oor kosverwante kulturele verskille. In die gesondheidskomponent van die kursus leer studente oor die waarde van 'n gesonde dieet wat uit verskillende kossoorte bestaan. Studente bestudeer ook die rol van epidemies, en leer meer oor funksionele en geneties gemodifiseerde kosse.

Die program word gesamentlik aangebied deur die US Fakulteit AgriWetenskappe se Departemente van Voedselwetenskap en Landbou-ekonomie, asook die US Fakulteit Mediese en Gesondheidswetenskappe se Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskap (Afdeling Menslike Voeding). Die program behels twaalf teoretiese modules en 'n navorsingsprojek.

“Voedsel- en voedingsekerheid gaan nie net daaroor dat ons moet sorg dat niemand honger ly nie, maar ook oor hoe om te verseker dat genoeg van die regte soorte kosse verbou word, en dat alle landsburgers toegang het tot voldoende gesonde opsies," vertel prof Gunnar Sigge van die US Departement Voedselwetenskap. “Dit is makliker gesê as gedaan, want armoede en werkloosheid speel 'n rol in hoe bekostigbaar en maklik dit vir mense is om sogenaamd 'gesond' te eet."

Een van die eerste 2017-studente, Hlanzeka Mpanza, het die program begin volg om 'n beter idee te kry oor die groter prentjie rondom kos en hoe dit volhoubare veranderinge beïnvloed. “Ek hoop ook om daardeur multidissiplinêre netwerke op te bou en by te dra tot veelvlakkige gesprekke wat nodig is oor wat en hoe ons in Suid-Afrika eet," sê hierdie voedingskundige wat vir 'n multinasionale voedselmaatskappy werk.

Vir voedseltegnoloog Daniella Stephen is een van die besliste voordele van die kursus dat sy dit kan voltooi terwyl sy steeds haar dagtaak verrig. Studente moet blokkursusse op Stellenbosch bywoon, maar maak origens van afstandsonderrig en telematiese uitsendings gebruik om in kontak met hul dosente te bly. “Die programinhoud is geweldig leersaam en dek 'n verskeidenheid van onderwerpe wat almal bymekaar inskakel om mens se begrip oor voedsel en voeding te verbreed," reken sy.

Carmen Loxton is 'n onderwyseres by 'n gevangenis, en stel veral belang in aspekte rondom landbou en voedselproduksie. Sy beskou haarself as 'n lewenslange student. Die programinhoud leer haar meer oor die beleid en kwessies wat 'n rol in die landbousektor speel.

Die toelatingsvereistes vir die MSc (Voedsel- en Voedingsekerheid):

  • Om oorweeg te word vir keuring moet jy 'n toepaslike BSc-graad in die Natuurwetenskap (3 jaar) en ʼn honneursgraad hê, OF 'n BSc Landbou-graad OF 'n vierjarige graad in Gesondheidswetenskappe, met 'n minimum slaagsyfer van 60%, OF 'n Baccalaureus- en Honneursgraad wat deur die US Senaat goedgekeur is, en op vlak 8 van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) is met dieselfde slaagsyfer as hierbo.
  • Kliek hier vir 'n brosjure.
  • Vir meer inligting oor die studieprogram, kontak vir prof Gunnar Sigge by gos@sun.ac.za of prof Xikombiso Mbhenyane by xgm@sun.ac.za. Vir algemene inligting, kontak Julia Harper by jrs@sun.ac.za.