Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suid-Afrika se langpootbye só aangepas om bokhoringblomme te bestuif
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 13/09/2017

Nuwe navorsing van die Universiteit Stellenbosch (US) in Suid-Afrika toon dat ‒ in 'n buitengewone geval van aanpassing ‒ die uitermatige lang voorpote van die Suid-Afrikaanse olieversamelende Rediviva by-spesie ontwikkel het in antwoord op die bokhoringblom se olieproduserende buise (wat soos bokhorinkies lyk), en nét so lank is.

“Dit is een van die min voorbeelde waar 'n bestuiwer moes aanpas by die blomme wat dit bestuif; gewoonlik werk dit andersom," verduidelik prof. Anton Pauw, hoofouteur van die artikel “Long-legged bees make adaptive leaps: linking adaptation to coevolution in a plant-pollinator network," wat vandag (13 September 2017) in die Proceedings of the Royal Society B: Biology gepubliseer is.

Prof. Pauw, 'n evolusionêre ekoloog in die Departement Plant- en Dierkunde by die US, sê bestuiwers hou dikwels die sleutel tot die verstaan van die ontwikkeling van blomdiversiteit. Met ander woorde: die blomme van plante het op skouspelagtige maniere aangepas by hulle bestuiwers ten einde te kan voortplant.  

In hierdie geval het die relatief onbekende Rediviva by-spesie langer voorpote ontwikkel. Laasgenoemde se lengte kan varieer – van 6,9mm tot 23,4mm lank – ten einde die olie te kan bykom wat die bokhoring diep onder in sy twee buise (of dan horings), produseer. Die lengte van hierdie horings verskil ook van spesie tot spesie, met 70 spesies wat deel uitmaak van die grootste genus van olieproduserende blomme (Diascia).

Die bye se voorpote is bedek met 'n digte laag fluweelagtige hare. Hierdie hare suig die olie op wat dan met die stuifmeel meng om 'n supervoedsame “brood" te vorm vir die larwes in hulle ondergrondse byneste.

Pauw, wat met navorsers van Duitsland, die Verenigde Koninkryk, België en die Verenigde State van Amerika saamgewerk het, het van DNS-analise gebruik gemaak om 'n stamboom vir 19 van die 26 Rediviva by-spesies op te stel. Volgens hom was hulle in staat om aan te toon dat naverwante byspesies dikwels dramaties verskil ten opsigte van pootlengte, en dat hierdie verskil verklaar kan word deur die onderlinge verskil in horinglengte van die blomme wat die spesifieke bye besoek.  

Dit het baie jare van observasie geverg om dié netwerk van interaksie tussen die olieversamelende bye en die 96 plantspesies by wie hulle olie versamel, te dokumenteer. Baie van die olie-afskeidende plante blom slegs in die eerste jaar wat volg op 'n veldbrand.

Prof. Pauw sê die volgende stap sou wees om 'n filogenetiese analise van bokhorings (Diascia) te doen om sodoende te toets of die horinglengte van die blom en die by se pootlengte tegelykertyd ontwikkel het, soos wat 'n mens sou verwag in 'n proses van ko-evolusie. “In laasgenoemde scenario ontwikkel plante en bye tegelykertyd in 'n tipe evolusionêre dans," verduidelik hy.

Hierdie interaksie is baie belangrik vanuit 'n ekologiese perspektief, sê hy: “Olie-versamelende bye word bedreig deur menslike aktiwiteite, veral deur verstedeliking. Deur die bye se rol in die proses van die ontwikkeling en instandhouding van plantdiversiteit te verstaan, kan jy moontlik die negatiewe impak van menslike aktiwiteite voorspel en dan ook versag."

Die mede-outeurs van hierdie artikel is: Belinda Kahnt, Michael Kuhlmann, Denis Michez, Graham A. Montgomery, Elizabeth Murray and Bryan N. Danforth.

Op die foto's bo: 

'n Bokhoringblom (Diascia whiteheadii) met 'n oop blom en verskeie blomknoppe. Die twee buise (horings) bevat olie. Foto: Anton Pauw

Die bye wat behoort tot die Suid-Afrikaanse olieversamelende byspesies (Rediviva longimanus) het disproporsionele lang voorpote wat met digte hare bedek is. Foto: Anton Pauw

Medianavrae

Prof. Anton Pauw

Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch

Tel: +27 21 8083314

Sel: +27 83 682 4177 

E-pos: apauw@sun.ac.za

 

Wiida Fourie-Basson

Media en kommunikasie, Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch

Tel: +27 21 808 2684

E-pos: science@sun.ac.za