Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gebruik grondwetlike regte om SA te verander – Regter Albie Sachs
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 24/08/2017

Ons moet ons grondwetlike regte gebruik om die volgende vlaag van verandering in die land teweeg te bring.

Só het Albie Sachs, oudregter van die Konstitusionele Hof en anti-apartheidsaktivis, op Donderdag (24 Augustus 2017) gesê. Hy het die vierde Oliver Tambo-eeufeeslesing by die Universiteit Stellenbosch Museum op die Stellenbosch-kampus gelewer.

Sachs het gesê in plaas daarvan om die Grondwet te blameer en te misbruik, moet ons dit eerder  gebruik om diepgaande transformasie te bespoedig.

“Die Grondwet vererger nie die massiewe ongelykheid in Suid-Afrika nie, maar fokus eerder op die bereiking van vryheid. Ek sien die Grondwet as ʼn dokument wat praat van verandering."

Sachs het bygevoeg dat die Grondwet dikwels as 'n alibi of 'n regverdiging gebruik word deur mense wat nie bereid is om na te dink oor die kwessies wat ons as 'n land in die gesig staar nie.

Hy het die idee verwerp dat die opstellers van die Grondwet uitverkopers was en dat dit net 'n elite-ooreenkoms tussen Mandela en besigheidslui was.

“Dit is uiters minagtend en vernederend vir baie van ons wat tydens Apartheid gebore is en grootword het om te sê ons is uitverkopers of handlangers; dat ons nou alles sal verraai waarvoor ons al daardie jare geveg het."

Sachs het bygevoeg dat diegene wat betrokke was by die opstel van die Grondwet die beste vir die land wou hê.

“Almal van ons wou hê daar moes transformasie in die land wees en ons het vorendag gekom met die grondwetlike teks wat ons gevoel het ons die beste moontlikhede sou gee om dit te bereik."

“As ek vandag na die teks kyk, voel ek regtig trots op hoeveel reeds bereik is. In daardie sin is die teks my dokumentêre bewys dat dit nie 'n soort ooreenkoms was om kapitaal te beskerm en seker te maak daar vind geen verandering plaas nie."

Sachs het gesê hy simpatiseer met mense wat voel ons beleide in Suid-Afrika is nie omvattend en radikaal genoeg nie.

Hy het bygevoeg dat hoewel ons meer transformasie benodig, ons nie die Grondwet vir die huidige stand van sake moet blameer nie.

 “As die weer polities sleg is, moet ons op die Grondwet staatmaak," het Sachs gesê.

  • Foto: Oud-regter Albie Sachs lewer die Oliver Tambo-eeufeeslesing.
  • Foto​graaf: Anton Jordaan