Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#VrouevanUS: Geheime van liggaam, gees is haar passie
Outeur: Jeanne van der Merwe
Gepubliseer: 23/08/2017

​Prof Soraya Seedat het in 1992, kort ná haar MB,ChB-internskap, by die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Psigiatrie aangesluit. Sy wou graag 'n mediese navorser wees, maar was nie seker of sy in psigiatrie of pediatrie moes spesialiseer nie.

'n Jaar as 'n mediese beampte by die Lentegeur-hospitaal het haar oortuig om 'n psigiater te word en in 1993 het sy as 'n kliniese assistent ingeskryf. Behalwe vir twee jaar van navorsing in die buiteland, was sy deurlopend aan die Psigiatriedepartement verbonde en het in 2012 die Uitvoerende Hoof geword.

Sy het 'n B2-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en meer as 300 eweknie-beoordeelde artikels in vaktydskrifte en hoofstukke in boeke agter haar naam. Daarin werp sy lig op 'n menigte oorsake, behandelings en transkulturele manifestasies van psigiatriese toestande.

Sy doen steeds oorspronklike navorsing en werk ook saam met navorsers van talle ander akademiese departemente binne én buite die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Sy was voorts al aan die spits van multi-institusionele navorsing as mededirekteur van die Mediese Navorsingsraad (MNR) se Angs- en Stresversteuringseenheid, as direkteur van sy Posttraumatiese Stresversteuringseenheid en tans as voorsitter van die South African Research Chairs Initiative (SARChI) se posttraumatiese stresversteuringsprojek. Laasgenoemde is 'n spogprojek van die NNS en fokus op die dinamika tussen trauma, posttraumatiese stresversteuring (PTSV) en genetika.

“Ek dink wat my aanspoor is dat ek baie tersaaklike, maar ook baie kreatiewe vrae kan vra oor hoekom siektes en psigiatriese versteurings op 'n spesifieke manier manifesteer, hoekom hulle enigsins manifesteer, en op watter nuwe maniere ons hulle kan behandel.

“Ek stel ook belang in hoe kapasiteit gebou word – hoe lei jy navorsers op; watter vaardighede dra jy aan hulle oor; hoe doen jy dit in 'n land met beperkte hulpbronne? Navorsing is ongelooflik mededingend. Jy ding internasionaal mee, dus moet jy jouself en jou vaardighede tot op die vlak van daardie speelveld ontwikkel."

Toekennings

Seedat het 'n klomp prestigeryke nasionale en internasionale navorsingstoekennings ontvang, maar sy beskou dit eerder as 'n erkenning van 'n kollektiewe navorsingsuitset as van haar eie prestasie.

“Navorsing gaan vandag oor die bou van netwerke en samewerking met mense uit ander vakgebiede. As jy jou vakgebied en kundigheid aan geesgenote met heeltemal verskillende vaardighede oopstel, bring dit 'n veel meer robuuste, genuanseerde en interessante navorsingsomgewing mee."

Die toekenning wat vir haar persoonlik die meeste beteken, is die 2013 Mail & Guardian Women in Science-toekenning.

“Dit was 'n voorreg om so baie talentvolle meesters- en doktorsgraadstudente te ontmoet – vroue wat in tradisioneel manlikoorheerste vakgebiede in die wetenskap, tegnologie en ingenieurswese werk en wat erkenning vir hul uitsonderlike prestasies kry."

Kinders en trauma

Haar belangstelling in psigiatrie het gespruit uit haar praktiese voorgraadse psigiatrieopleiding aan die King George-hospitaal in Durban terwyl sy medies aan die Universiteit van KwaZulu-Natal gestudeer het.

“Ons het die geleentheid gekry om met of sonder toesig onderhoude met pasiënte te voer. Ons het hierdie onderhoude dikwels buite in die hospitaal se tuine gevoer met pasiënte wat vir lang tydperke daar was. Hulle het my gefassineer. Ek was ook bevoorreg om in psigiatrie onderrig te word deur leermeesters en lektore wat uiters passievol oor hul vakgebied was."

Sy werk al sedert haar dae as 'n kliniese assistent saam met haar medevoorsitter van die MNR se Angs- en Stresversteuringseenheid, prof Dan Stein. Hul werk op die gebied van trauma het hulle in 1999 genoop om die MNR se Bathuthuzele-jeugstreskliniek by die Tygerberg-hospitaal tot stand te bring.

“Bathuthuzele beteken 'troos hulle'. Ek het taamlik betrokke by die kliniek geraak, na skole gegaan, kinders gewerf en mense bewus gemaak van die uitwerking wat trauma op geestesgesondheid het.

“Trauma manifesteer dikwels deur liggaamlike simptome. As 'n vrou as kind seksueel mishandel is, kan die letsels in haar volwasse jare liggaamlik manifesteer as byvoorbeeld herhalende blaasinfeksies, of gastro-intestinale en borsinfeksies. Sy kan etlike gesondheidsdeskundiges oor verskeie simptome raadpleeg, maar 'n dokter sal eers by nader ondersoek ontdek dat trauma die wortel van die kwaad is.

“Dit is hoekom dit baie belangrik is om op die jeug te fokus, want dít is waar die mees vrugbare vroeë intervensie kan plaasvind, selfs onder jeugdiges wat reeds probleme ontwikkel het. Jong mense is veel meer plooibaar as volwassenes en jy kan veel makliker 'n positiewe invloed op hul liggaam en verstand uitoefen, omdat hul biologiese stelsels nog veranderlik en minder ontwikkeld is."

Genetiese legkaart

Navorsing onder Seedat se leiding onder die vaandel van die NNS se SARChI-program ondersoek hoe omgewings- en biologiese faktore 'n individu se genetika beïnvloed, asook die breër implikasies vir die simptome en behandeling van trauma en posttraumatiese stres.

“Konvensionele wetenskap het aangevoer ons word gebore met statiese gene wat by ons ouers geërf is. Oor die afgelope 10 jaar het ons egter gevind dat ons genetiese argitektuur inderwaarheid beïnvloedbaar is, beide biologies én wat omgewingsfaktore betref. Dit is bekend as epigenetika. Die DNS se struktuur is stabiel, maar die uitdrukking van daardie genetiese argitektuur kan weens 'n omgewingsimpak soos trauma, armoede, gesins- en maatskaplike invloede, asook biologiese faktore verander.

“By 'n toestand soos Downsindroom weet ons wat die genetiese abnormaliteit is, maar psigiatriese toestande is veel minder gedefinieerd en dit is hoekom dit die wetenskap  en geneeskunde so lank neem om die oorsake van dié versteurings te ontrafel. Ons onderneem nou baie gesofistikeerde studies en probeer bepaal hoeveel van 'n psigiatriese versteuring deur die omgewing veroorsaak word. Ons het heelwat stukke van die legkaart, maar kon nog nie al die stukke netjies inpas nie."

Sorg en finansiering

Ofskoon Seedat jare laas in 'n psigiatriese hospitaal gewerk het, hou sy toesig oor heelwat navorsers en navorsingstudies in hospitale, klinieke en ander omgewings, waar sy dringende nood én rede vir hoop waarneem.

“Hulpbron-uitdagings staar Suid-Afrika in die gesig wat mense, geld en vaardighede betref. Toegang tot gesondheidsorg en medikasie is 'n verdere uitdaging. Talle medisynes wat al in die VSA en die Europese Unie vir die behandeling van psigiatriese toestande goedgekeur is, is weens die hoë koste daarvan eenvoudig nie hier beskikbaar nie. In baie gevalle wend ons ons tot ouer medikasie met meer newe-effekte.

“Ek dink die meeste psigiatriese hospitale en distrikshospitale wat psigiatriesepasiënte behandel, funksioneer onder baie moeilike omstandighede. Ongelukkig is psigiatrie tradisioneel die weeskind van die gesondheidsvakrigtings, met net sowat 3,5% van die gesondheidsbegroting. Die Departement van Gesondheid het egter onlangs die aandag op die probleme en uitdagings van geestesgesondheidsdienste gevestig en wend 'n groter poging aan om dié dienste te ondersteun. Ek is positief dat ons vorentoe 'n verbetering gaan sien," sê Seedat.

Onderskrif: Prof Soraya Seedat

Foto: Damien Schumann