Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties skop internasionale sportloopbaan in Kanada af
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 20/08/2017

Twee van Universiteit Stellenbosch (US) se studente en multisportatlete het amper halfpad om die wêreld gereis om hul internasionale sportloopbane by die 2017 ITU Multisport Wêreldkampioenskapfees, wat van 18-27 Augustus in Penticton, Kanada plaasvind, af te skop.

Catherine Pellow-Jarman (19), 'n eerstejaarstudent in BA Sportwetenskap van Franschhoek, en Taryn-Maie Wille (20), 'n eerstejaarstudent in BSc Bewaringsekologie van Grahamstad, was baie opgewonde oor die geleentheid om hul land oorsee te verteenwoordig.

“Ek draf en ry my hele lewe lank al fiets maar het eers twee jaar gelede aan tweekamp begin deelneem," sê Catherine, wat gekies is om aan die tweekamp, ouderdomsgroep 20-24, deel te neem. Hierdie item behels 10km draf, 40km fietsry en nog 5km draf.

“Dit was een van my drome om my land by 'n wêreldkampioenskap te verteenwoordig. Dit is my eerste jaar in die 20-24-ouderdomsgroep en my hoofdoelwit is om ervaring op te doen om op hierdie vlak mee te ding."

Taryn-Maie is gekies om aan die velddriekamp (ouderdomsgroep 20-24) deel te neem. Dit bestaan uit 1.5km swem, 31km bergfietsry en 8km draf. Sy neem al ses jaar aan driekamp deel en reken haar prestasies by die Grabouw Xterra sowel as die geleentheid om saam met haar pa aan die Sani2C- en Wines2Whales-bergfietsskofwedrenne deel te neem, onder haar sporthoogtepunte.

“Ek voel baie bevoorreg en is verskriklik opgewonde om oorsee deeI te neem," het sy gesê voor sy na Kanada vertrek het. “My mikpunt is om internasionale wedrenondervinding op te doen en 'n paar PB's te behaal."

Sy is ook gekies om later vanjaar aan die Xterra in Hawaii deel te neem, maar sal as gevolg van akademiese verpligtinge nie daar kan deelneem nie.

As studente-atlete, moet Catherine en Taryn-Maie hul oefening by hul akademiese skedules aanpas.

“Ek oefen seker so 12 uur per week," sê Catherine. “Ek hou daarvan om vroeg in die oggend voor klas begin, te oefen. Dan maak ek die beste gebruik van lesings en afperiodes. Ek probeer ook soveel werk moontlik gedoen kry voordat ek in die aand oefen."

Dis vir Catherine voordelig om 'n inwoner van US se sportkoshuis Huis Neethling te wees: “Dit is gerusstellend om omring te wees deur ander studente wat verstaan hoe dit is om 5:30 in die oggend te oefen en dan deur 'n hele dag se lesings te moet sit sonder om aan die slaap te raak."

Taryn-Maie oefen ongeveer 14 uur per week.

“Ek pas my oefensessies in voor en ná lesings en selfs tussen-in as ek tyd het, anders oor naweke. Ek kon 'n goeie basis lê gedurende die vakansie."

Die feit dat sy 'n veldloopatleet is, het baie bygedra tot haar waardering vir die natuur en sy hoop om eendag haar sport te kan gebruik om geld in te samel vir bewaring.

“My doelwit is om een van die beste bewaringsgesindes te wees in watter veld ek ook al ingaan, en om die omgewing op soveel maniere as moontlik te help."​