Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ons moet saamspan teen korrupsie
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 16/08/2017

Ons moet almal ons deel doen om korrupsie te bekamp omdat dit ernstige gevolge vir die land se ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling inhou.

Só het prof Pregala Pillay van die Skool vir Publieke Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs in haar intreerede gesê. Pillay is ook die Direkteur van die Sentrum vir Opvoeding en Navorsing teen Korrupsie by die Universiteit Stellenbosch (ACCERUS), en beklëer van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAICA)- en ACCERUS-navorsingsleerstoel.

Pillay het gesê korrupsie hou ernstige negatiewe gevolge vir Suid-Afrika in aangesien dit ontwikkeling striem, armoede vererger en verhoog, en tot die onbillike verspreiding van inkomste, ekonomiese agteruitgang en ʼn gebrek aan beleggings lei.

Sy het daarop gewys dat korrupsie ons eerste demokratiese grondwet ondermyn. Pillay het byvoeg dat ons grondwet gegrond is op die vervulling van alle burgers se verwagtinge van etiese, eerlike, deursigtige, regverdige en korrupsie-vrye publieke administrasie wat die doeltreffende aanwending van staatshulpbronne vir ekonomiese en sosiale ontwikkeling tot gevolg sal hê.

Pillay meen een van die redes vir die voortslepende korrupsie is 'n gebrek aan etiek in die samelewing.Pillay.jpg

“Die toenemend hoë vlakke van korrupsie het 'n daaglikse werklikheid geword en word beskou as die direkte resultaat van ʼn wegkalwing van individuele en kollektiewe etiek in alle sektore van die samelewing."

“Onetiese en korrupte staatspraktyke op beide administratiewe en politieke vlak is die teenoorgestelde van goeie bestuur wat 'n belangrike element is in die proses om landsburgers se vertroue in die regering te bou. Onetiese en korrupte optrede beïnvloed landsburgers se vertroue, en dit is op die oomblik 'n hartseer werklikheid in ons land."

“Die wegkalwing van Suid-Afrikaanse burgers se vertroue is 'n weerspieëling van ʼn diep gewortelde oortuiging dat die hele spektrum van die land se openbare sektor korrup en onverantwoordbaar is en deur 'n groot aantal ekonomiese magte gekaap is."

Pillay het gesê ons moet 'n etiese kultuur bevorder en vertroue in die regering versterk omdat wetgewing en beleide teen korrupsie nie die gewenste uitwerking gehad het nie.

“Suid-Afrika het van die mees omvattende teen-korrupsie wetgewing in die wêreld, maar ongelukkig is implementering en toepassing tot dusver ietwat onsuksesvol en ondoeltreffend."

“Die omvattende wetgewende en regulerende raamwerk en betroubare, doeltreffende en suksesvolle staatsorgane kon nie vertroue in die staat en sy organe bevorder nie. Hierdie probleem kan slegs aangespreek word deur die volgehoue deelname van alle landsburgers in die verskillende sektore van die Suid-Afrikaanse politiek."

Pillay het gesê aangesien korrupsie 'n veelvlakkige probleem is, het ons 'n veelvlakkige benadering nodig om dit aan te spreek.

Sy het in die verband die rol wat ACCERUS en SAICA kan speel om 'n korrupsie-vrye samelewing te bevorder, en om die manier waarop ons korrupsie aanspreek te verander, beklemtoon.

  • Foto: Profs Pregala Pillay (middel), Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, en Johan Malan, waarnemende Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, by die intreerede.
  • Fotograaf: Anton Jordaan