Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsingspublikasie wys US se bydrae tot globale volhoubare ontwikkelingsdoelwitte
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 15/08/2017

Die vinnige opsporing van heuningbedrog; die rol van vroue in die weermag; die verband tussen hartsiektes en geestesgesondheid; loopbaanontwikkeling vir jongmense in townships; die gebruik van naaldekokers om die stand van waterbronne te moniteer; en maniere waarop tegnologie en speletjies onderwys kan red.

Hierdie is slegs enkele van die interessante onderwerpe in die jongste uitgawe van Research at Stellenbosch University wat Maandag (14 Augustus 2017) amptelik deur die Afdeling Navorsingsontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch (US) bekendgestel is.

Ander onderwerpe sluit in: Manteldraaier  - die sukses van die indringer-smalbekvlermuis; virusse wat deur vlermuise oorgedra word is 'n rede tot kommer; die verband tussen botsings op paaie en die swak toepassing van verkeerswette; en Afrikaanse musiek weerspieël die land se geskiedenis.

Dié jaarlikse publikasie bied die nasionale en internasionale navorsingsgemeenskap asook ander belanghebbendes 'n omvattende en tog toeganklike oorsig van innoverende en interessante navorsing aan die US. Dit belig die suksesvolle bydraes van 'n aantal geselekteerde   navorsingsprojekte by die Universiteit wat 'n positiewe impak op mense se lewens te maak.

Research at Stellenbosch University dien as 'n platform om navorsingsbevindinge met die publiek te deel, en verskaf ook inligting oor die Universiteit se gegradeerde navorsers (soos bepaal deur die Nasionale Navorsingstigting), Uitgelese Professore, Navorsingsleerstoele, Sentrums van Uitnemendheid, sowel as innoverende tegnologie wat hier ontwikkel word.

Dit bied ook 'n oorsig van bydraes deur hoogs talentvolle en toegewyde US-navorsers wat help om 'n samelewing te skep waar mense vreedsaam kan leef, waar goeie gesondheid en menswaardigheid bevorder word, waar armoede en verwante toestande uitgewis word, waar volhoubare ontwikkelings die toekoms van ons natuurlike hulpbronne en die omgewing verseker, en waar tegnologiese ontwikkelings help om die lewens van mense en die samelewing te bevorder. As sodanig gee die publikasie erkenning aan hul toewyding en vasberadenheid, en hul uitsonderlike bydraes tot die samelewing.

Met die tema SU contributes to the global Sustainable Development Goals through our research activities, het die 2016-uitgawe die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte in vier hoofstukke, naamlik Mense en Samelewing, Gesondheid, Omgewing en Ekonomie, en Hulpbronne, gehergroepeer. Op die wyse fokus dit op stories waar navorsing by die US met spesifieke doelwitte verband hou.

In kommentaar op die jongste uitgawe, sê prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier, “hierdie publikasie weerspieël ons navorsingsaktiwiteite wat bydra tot 'n getransformeerde samelewing en beklemtoon ook ons verbintenis tot die ontwikkeling van mensekapitaal en die uitstekende werk van sommige van ons navorsingsgerigte akademici."

In aansluiting by De Villiers, sê me Maryke Hunter-Hüsselmann, Direkteur: Navorsingsinligting en -strategie aan die US en redakteur van die publikasie: “Research at Stellenbosch University toon die relevansie en impak van die US se navorsing in die samelewing en hoe dit tot die verbetering van maatskaplike toestande bydra."

Vorige uitgawes van Research at Stellenbosch University (vanaf 2010) het almal toekennings verower by die jaarlikse Marketing, Advancement and Communication in Education (MACE)-konferensie se toekenningsgeleentheid.

  • Gedrukte kopieë is op aanvraag beskikbaar. Skakel met Maryke Hunter-Hüsselmann by tel 021 808 4623 of e-pos mh3@sun.ac.za  vir meer inligting.
  • Die Afdeling Navorsingsontwikkeling het ook in 2016 'n opgedateerde brosjure oor die US se navorsingsleerstoele en sentrums van uitnemendheid bekendgestel. Klik hier vir meer inligting.
  • Klik hier vir meer oor die US se onlangse navorsingsprestasies.

Foto: Prof Wim de Villiers blaai deur 'n kopie van Research at Stellenbosch University

Fotograaf: Stefan Els