Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groot inspuiting vir navorsing in mariene wetenskap in die Suide
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 10/08/2017

Navorsing in Suid-Afrika op die gebied van mariene wetenskap het ’n groot inspuiting gekry met die ondertekening van ’n hoëvlak ooreenkoms tussen Suid-Afrika, Brasilië en die Europese Unie ten opsigte van tegniese samewerking in die bestudering van die Atlantiese Oseaan wat strek vanaf Arktika tot Antarktika.

Tans is die Suidelike Yssee en die Suid-Atlantiese kom van die mins bestudeerde gebiede, wat nie in verhouding is met die enorme invloed wat hierdie gebied uitoefen op die wêreldwye omgewing en klimaatsverandering nie. 

Die Suid-Atlantiese Navorsings- en Innovasievlagskipinisiatief sal wetenskaplike kennis oor mariene ekosisteme verbeter, asook oor die verbande tussen oseane en klimaatsveranderinge; voedsel- en energiesisteme; en die dinamika van die Atlantiese Oseane en hulle onderlinge verbondenheid ten opsigte van sirkulasiesisteme van Antarktika tot Arktika.

Hierdie ooreenkoms is op 13 July 2017 tydens ’n hoëvlak ministeriële en wetenskapsvergadering in Lissabon se historiese Belém Toring onderteken deur Carlos Moedas, die EU Kommissaris vir Navorsing, Wetenskap en Innovasie; Gilberto Kassab, Brasilië se Regeringsminister vir Wetenskap, Tegnologie, Innovasie en Kommunikasies; en Suid-Afrika se Naledi Pandor, Minister van Wetenskap en Tegnologie.

Prof. Alakendra Roychoudhury, hoof van die Departement Aardwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US) was een van die afgevaardigde wetenskaplikes wat Suid-Afrika by hierdie vergadering verteenwoordig het vanaf 12 tot 14 Julie.

Hy sê dit is van kritiese belang dat Suid-Afrika die nodige spesialiskennis ontwikkel wat nodig sal wees om aan die vereistes te voldoen wat aan ’n land gestel word wat deur drie oseane begrens word: “Die grootste gedeelte van die oseaan wat onderkant Afrika lê, is nog ’n braakland ten opsigte van navorsing en relevante data van daardie streek ontbreek wat van die uiterste belang is vir wêreldwye  klimaatsmodelle en om die langtermyn tendense in klimaatsveranderlikes te kan verstaan.”

Ander navorsingsgebiede wat kommer wek is oseaanchemie, -ekologie, -biodiversiteit, en die potensiaal vir ’n volhoubare eksplorasie van natuurlike hulpbronne. Volgens die Suid-Suid Raamwerk-dokument is daar ook min bekend oor habitatte, spesies, ekosisteme, die interne koolstofsiklus, mikrovoedingstowwe en kontaminante en is studies hoofsaaklik beperk tot die areas aangrensed van die kontinente.

Die ooreenkoms wat nou gesluit is, sal nou ’n meer gekoördineerde poging moontlik maak en die meer effektiewe gebruik van mariene navorsingsvaartuie soos die SA Agulhas II insluit. Beter koördinering ten opsigte van observasies en die deel van data sal ook daaruit voortvloei.

Prof. Roychoudhury het in 2015 ’n groot rol gespeel in die vestiging van die hoogs gespesialiseerde navorsingsgroep by die US wat fokus op spoorelemente en eksperimentele biogeochemie, met die oog op die ontwikkeling daarvan tot ’n Sentrum van Uitnemendheid in Afrika.  Hierdie groep se navorsings- en opleidingsaktiwiteite fokus op die Suidelike Yssee ten einde die langtermyn impak op die wêreldwye koolstofsiklus,  aansuring van die oseane en klimaatsverandering te kan begryp. Die groep se navorsing skakel nou met die internasionale GEOTRACES program, wat wetenskaplikes van 35 lande betrek wat saamwerk om beter begrip te bewerkstellig van die biogeochemiese siklusse en grootskaalse verspreiding van spoorelemente en hulle isotope in die mariene omgewing. Die groep werk ook nou saam met WNNR se Southern Ocean Carbon and Climate Observatory (SOCCO), wat daarop fokus om die nasies van die Suidelike Hemisfeer byeen te bring om oseaanstudies te onderneem.

“Die Suid-Suid Raamwerk is ’n groot inspuiting vir mariene chemie, ’n studieveld waar daar in Suid-Afrika ’n kritiese gebrek aan kapasiteit is. Dit beteken dat daar baie navorsingsaktiwiteite in hierdie veld sal plaasvind wat weer baie nuwe geleenthede vir nagraadse studente en navorsers sal skep. Die Universiteit Stellenbosch is in die ideale posisie om voordeel te trek uit sy geografiese ligging en die bestaande intellektuele kapasiteit uit te brei,” sluit prof. Prof Roychoudhury af.

Op die foto bo, die Suid-Afrikaanse afvaardiging hier saam met die Minister van Wetenskap en Tegnologie Naledi Pandor tydens die ondertekening van die 'European Union - Brazil - South Africa Atlantic Ocean Research and Innovation Cooperation' wat van 12 tot 14 Julie 2017 in Lisbon plaasgevind het.

Kontakbesonderhede

Prof Alakendra Roychoudhury

Tel: 021 808 3124

E-mail: roy@sun.ac.za