Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Borsvoeding is bobaas
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 02/08/2017

​Borsvoeding is die voordeligste opsie vir babas van moeders met MIV en behoort tot minstens 12 maande volgehou te word.

Dié aanbeveling in 2010 van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), wat in 2013 en weer in 2016 hersien is en in Suid-Afrika se Tshwane-verklaring van 2011 gesteun word, is gegrond op studies wat 'n verlaging in die risiko vir longontsteking en diarree, die hoofoorsake van kindersterftes, aandui.

Ongelukkig was dit strydig met vorige aanbevelings om borsvoeding ter wille van die voorkoming van moeder-na-kind oordrag (VMNKO) van MIV te vermy.

Dr Moleen Zunza, 'n navorser verbonde aan die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg en die FAM-CRU-eenheid van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het bevind hierdie teenstrydigheid is een van die hoofredes waarom vroue nie aan die aanbeveling voldoen nie. Sy het tot dié slotsom gekom tydens navorsing vir haar PhD-tesis, wat 'n ondersoek ingesluit het na die maatskaplike en kontekstuele faktore wat vroue met MIV se voedingspraktyke beïnvloed.

Sy het bevind dat die min vroue wat wel borsvoeding verkies, vroeg na formulemelk oorskakel. Haar studie is gedoen terwyl die Wes-Kaapse VMNKO-projek oorgeskakel het van die aanbeveling van vervangingsvoeding na dié van borsvoeding, gesteun deur antiretrovirale beskerming.

“Gedurende die oorgangstydperk het vroue en gesondheidswerkers gemengde gevoelens oor borsvoeding gehad," verduidelik Zunza.

Sy sê die studie toon die jare lange bevordering van formulemelk vir moeders met MIV het vertroue in borsvoeding onder gesondheidswerkers én vroue laat afneem. Ofskoon die oorgangstydperk in die Wes-Kaap in April 2015 formeel tot 'n eindegekom het, is Zunza nie oortuig dat vroue se sienings voldoende verander het nie.

“Die eerste praktiese aanbeveling wat uit hierdie studie spruit, behels die verskaffing van inligting aan gesondheidsorginstellings en gemeenskappe. Hulle is dikwels nie bewus van die voordele wat borsvoeding vir die gesondheid en ontwikkeling van kinders inhou nie," sê Zunza.

Sy glo haar bevindings kan ook gebruik word om navorsing te motiveer om vas te stel wat vroue met MIV oorreed dat die risiko van borsvoeding die moeite werd is. Haar navorsing benadruk voorts die behoefte aan ingrypingsaksies om die gesindheid van vroue met MIV en van gemeenskappe te verander. “Sommige getoetste ingrypingsaksies sluit individuele voorligting, groepsopvoeding, selfoon-teksboodskappe en motiverende onderhoude in."

Volgens Zunza is daar 'n behoefte aan individuele borsvoedingondersteuning op kort termyn en om vroue met die oplossing van enige borsvoedingsprobleme te ondersteun. “Om borsvoeding suksesvol te bevorder en te ondersteun is optrede op etlike vlakke nodig, vanaf beleidsriglyne tot maatskaplike ingesteldhede, vroue se werksomstandighede,asook gesondheidsorgdienste."

 

Onderskrif: Dr Moleen Zunza

Foto: Damien Schumann