Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Eugene Cloete met nasionale toekenning vereer
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 30/06/2017

Prof Eugene Cloete, Viserektor vir Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die Universiteit Stellenbosch (US), is Donderdag (29 Junie 2017) met ʼn Nasionale Wetenskap en Tegnologie Forum (NWTF)/ South32-toekenning vereer vir sy uitstaande bydrae tot navorsing en innovasie in Suid-Afrika.

Prof Cloete was ʼn wenner in die kategorie: Navorsing deur ʼn individu of span wat lei tot innovasie in ʼn organisasie. Hy het die toekenning ontvang vir sty teesakkie-waterfilter, Rotoscope en ander innoverende projekte.

Die jaarlikse NWTF/South32-toekenningsgeleentheid, wat in Kempton Park plaasgevind het, erken, vier en beloon uitnemendheid in wetenskap, ingenieurswese, tegnologie (WET) en innovasie in Suid-Afrika.

Prof Cloete doen reeds geruime tyd baanbrekerswerk oor die gebruik van nanotegnologie in die waterindustrie en het ʼn watersuiweringsfilter wat op funksionele nanovesels gebaseer was ontwikkel en gepatenteer. Dié uitvindsel, wat veral in landelike gebiede gebruik kan word, is in 2010 deur die tydskrif Scientific American gelys as een van die 10 idees wat die wêreld kan verander.

Onder Prof Cloete se ander belangrike watersuiweringstegnologieë tel Rotoscope, ʼn klein toestel om slym in water te moniteer, en ʼn bioreaktor om afvalwater in wynkelders te suiwer. Hy het ook ʼn leidende rol gespeel in navorsing oor die benutting van die son om opgevangde reënwater te suiwer.

Prof Cloete het twee suksesvolle waterinstitute by onderskeidelik die Universiteit van Pretoria (2004) en die US (2012) gestig. Hy het ook namens die Afrika-Unie ʼn netwerk van Sentrums van Uitnemendheid in waternavorsing in Suider-Afrika op die been gebring. Hy ontvang erkenning vir sy bydrae tot beleid met twee ministeriële aanstellings op die rade van die Wetenskaplike Nywerheids- en Navorsingsraad (2012) en die Waternavorsingskommissie (2014).

Prof Cloete se navorsing oor die gebruik van nanotegnologie in die waterindustrie het tot nege patente gelei, en aan hom verskeie toekennings besorg. Hier onder tel ʼn goue medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Havenga-prys vir Biologie, en ʼn silwer medalje van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Mikrobiologie. Hy was ook gekies as ʼn genoot van die Amerikaanse Akademie vir Mikrobiologie, die Internasionale Watervereniging, die Suid-Afrikaanse Waterinstituut, en die Royal Society of South Africa.

Prof Cloete het baie eweknie-geëvalueerde wetenskaplike artikels, ses boeke en verskeie boekbydraes die lig laat sien, en tel ook onder die top 50 mees gesiteerde waternavorsers ter wêreld.

Hy het vir etlike jare as studieleier en medestudieleier vir baie magister- en doktorale studente opgetree. Baie van sy studente het reeds wêreldwyd hul merk gemaak.