Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tygerberg se nuwe beroerte-eenheid flink op dreef
Outeur: Carine Visagie
Gepubliseer: 20/06/2017

Danksy ʼn unieke benadering en ʼn toegewyde span gesondheidsorgwerkers, vorder die nuwe beroerte-eenheid by die Tygerberg Hospitaal met rasse skrede wat betref die aanpak van Suid-Afrika se beroerte-las.

Navorsing toon toegewyde sorgeenhede kan help om beroerte-sorg deur relatief eenvoudige, laekoste-metodes te optimaliseer. Maar in Suid-Afrika, waar beroertes een van die drie hoofoorsake van sterftes is, het sulke eenhede nie voorheen voorkeur geniet nie. Dit begin nou verander danksy die vestiging van die nuwe beroerte-eenheid (TBE) by die Tygerberg Hospitaal.

Die TBE is tot stand gebring ná maande lange voorbereiding deur die Universiteit Stellenbosch (US) en rolspelers by die Tygerberg Hospitaal, insluitende dr Naeem Brey, konsultant-neuroloog by die Afdeling Neurologie van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), dr Neshaad Schreuder (Hoof van Algemene Spesialisdienste van die Departement Geneeskunde), prof Jonathan Carr (Hoof van die Afdeling Neurologie) en prof Rafique Moosa (Hoof van die FGGW se Departement Geneeskunde). Ander Suid-Afrikaanse hospitale gebruik die eenheid nou as ʼn model.

Die konsep het gespruit uit die erkenning van die hoë voorkoms van beroerte in Suid-Afrika, asook uit positiewe resultate wat by die Groote Schuur en GF Jooste Hospitale behaal is, waar soortgelyke eenhede voorheen suksesvol tot stand gebring is. 

"Die TBE-konsep is verfyn deur plaaslike en internasionale modelle effens te wysig," sê Brey. "Die eenheid is ná talle vergaderings en heelwat oorlegpleging met die onderskeie departementshoofde stilweg op 1 Februarie bekend gestel."

Sedert die eenheid sy deure geopen het in wat voorheen ʼn saal met ses beddens was, is sowat 130 pasiënte behandel. Die span het ook gehelp om beroerte-pasiënte in ander sale te behandel terwyl hulle gewerk het aan die verbetering van verwysingsmetodes, die optimalisering van verskeie protokolle en die verspreiding van inligting na ander hospitaaleenhede – alles in ʼn poging om die eenheid te laat vlot vir die amptelike bekendstelling in Februarie.

Die multidissiplinêre span wat beroerte-pasiënte by die TBE behandel, sluit dokters en verpleegkundiges, arbeidsterapeute, spraakterapeute, fisioterapeute, dieetkundiges en maatskaplike werkers in, wat almal gespesialiseerde opleiding ontvang het.  

Volgens Brey kan hiperakute, akute en subakute beroertepasiënte deur die TBE behandel word. "Afhangende van die tipe beroerte en wanneer dit plaasgevind het, word pasiënte vinnig geassesseer vir trombolise-terapie (die toediening van medikasie om bloedklonte te laat oplos) … Diegene wat nie vir hierdie potensieel lewensveranderende behandeling geskik is nie, word ooreenkomstig die beste mediese en chirurgiese praktyke bestuur."

Ná die sukses wat gedurende die eerste jaar behaal is, het ander hospitale die span gekontak en hul eie eenhede gevestig. Dit word deur Brey en die res van die TBE verwelkom. "Om die proses te fasiliteer het ons ons protokolle met verskillende hospitale gedeel en sal binnekort opleidingsessies aanbied."

Vir meer inligting oor die TBE, kontak Brey by breyn@sun.ac.za, of skakel +27 21 938 5500.

Onderskrif: Dr Naeem Brey, konsultant-neuroloog by die Afdeling Neurologie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, saam met spanlede van die nuwe beroerte-eenheid by die Tygerberg-hospitaal.