Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US skep funksie vir monitering van verkragtingskultuur deur hele instelling
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 22/06/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal ʼn permanente meganisme skep vir die monitering van verkragtingskultuur en geslagsgeweld op sy kampusse. Moniteringsaktiwiteite sal ʼn jaarlikse klimaatopname insluit om ʼn verslag oor verkragtingskultuur op te stel, wat aan die Rektor se Bestuurspan (RBS) voorgelê sal word.

Dít is een van die kernaanbevelings van die US se taakgroep oor die beëindiging van verkragtingskultuur. Die RBS het dié groep in Maart 2016 saamgestel om met voorstelle vorendag te kom vir die verandering van die onderliggende kultuur van geslagsgeweld en verkragtingskultuur aan die US, synde ʼn manifestasie van die groter samelewingsuitdaging in hierdie verband.

Die moniteringsfunksie sal vanuit die Eenheid vir Gelykwaardigheid van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling in die Afdeling Studentesake funksioneer, en sal alle kampusse moniteer.

Verkragtingskultuur verwys na houdings, oortuigings, optrede en praktyke wat geslagsdiskriminasie en seksuele geweld, waaronder verkragting, normaliseer. (Vir 'n meer formele omskrywing, sien "Meer oor verkragtingskultuur" hieronder.)

"Universiteite se rol om verkragtingskultuur te hanteer gaan nie net daaroor om hier en nou met studente aan die US te skakel nie, maar ook om ons gegradueerdes toe te rus as agente van verandering om ʼn werklike en volhoubare impak op die groter Suid-Afrikaanse samelewing te hê," sê dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur: Studentesake en voorsitter van die taakgroep. "Ons wil gegradueerdes oplewer wat onreg en magsongelykhede kan raaksien, en wat daadwerklik op aanvaarbare maniere daarop kan reageer om volhoubare transformasie in Suid-Afrika teweeg te bring."

Rolspelers

Die taakgroep, wat bestaan het uit verskeie akademiese, steun- en administratiewe personeel van die US, verteenwoordigers van die Studenteraad (SR), studenteleiers van US-gemeenskappe sowel as studenteaktiviste, het onlangs hul verslag ingedien by die RBS, wat die aanbevelings daarin goedgekeur het.

"Die taakgroep het deeglike werk gedoen en die Universiteitsbestuur het die verslag met waardering aanvaar. Die aanbevelings sal ʼn beduidende bydrae lewer om ons hierdie uitdaging, wat ons met die res van die samelewing deel, te help hanteer. Elke lid van die Universiteitsgemeenskap is verantwoordelik om hul deel te doen," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier.

Schreiber voeg by: "Met die ondersoek het die taakgroep bevind dat geslagsgeweld en verkragtingskultuur, nes in die groter samelewing, ook op kampus ʼn diepliggende probleem is wat nie net die slagoffers/oorlewendes onteer nie, maar wat almal raak – personeellede, studente, vriende en familie van slagoffers/oorlewendes, sowel as die geweldenaars self. Ons leef in ʼn brutaal gewelddadige samelewing, waarvan geslagsgeweld maar net een van die manifestasies is."

Sy beklemtoon dat sowel studente as personeellede ʼn verantwoordelikheid het om die kultuur waarin geslagsgeweld vasgelê is te verander: "Ons het mans en vroue nodig met die moed om verkragtingskultuur bloot te lê en dit te verander deur nie net op te staan teen die seksistiese aanmerkings, die verkleinerende beelde, die wrede grappe en die eksplisiete geslagsgeweld in ons samelewing nie, maar ook deur positiewe stappe te doen om die kultuur te verander wat dít alles normaal laat lyk."

Aanbevelings

Benewens die vestiging van ʼn meganisme vir die monitering van verkragtingskultuur, het die taakgroep aanbeveel dat die senior bestuur, personeellede en studente van die US opleiding oor die beëindiging van verkragtingskultuur ontvang. In hulle kommentaar op die verslag het die RBS hulle toewyding en geesdrif in hierdie verband aangedui.

"Ons dink dit is baie belangrik dat die senior bestuur die gewenste veranderinge modelleer, lei en uitleef. Trouens, ons almal moet die gedrag en houdings vir die beëindiging van verkragtingskultuur modelleer en dit uitdruklik binne lynbestuur hanteer om ʼn direkte impak op kultuur te hê. Boonop vereis dit toewyding van alle studente en personeel om kwessies in verband met geslagsgeweld en verkragtingskultuur deel te maak van hoe hulle oor transformasie, kultuurverandering en vernuwing dink," sê Schreiber.

Intervensies

Die taakgroep het gedurende 2016 ʼn verskeidenheid aktiwiteite en intervensies gefasiliteer wat die groter US-gemeenskap in staat gestel het om aan die gesprekke oor verkragtingskultuur deel te neem. Dit het onder meer studente- en personeelgesprekke, mediaverklarings en koerantberigte, opleiding vir studenteleiers, die groter studentegemeenskap en personeel, ʼn video oor verkragtingskultuur, programme vir studentesteun en -ontwikkeling sowel as ʼn toegewyde webtuiste behels

  • Klik hier vir die verslag.

MEER OOR VERKRAGTINGSKULTUUR: OMSKRYWING

Die US se taakgroep oor die beëindiging van verkragtingskultuur omskryf verkragtingskultuur soos volg:

"Verkragtingskultuur verwys na houdings, oortuigings, optrede en praktyke wat geslagsdiskriminasie en seksuele geweld, waaronder verkragting, normaliseer. Algemene handelinge wat met verkragtingskultuur verbind word, sluit in geslagsdiskriminasie, seksisme, die beskuldiging van slagoffers, seksuele objektivering, 'sletbeskaming' ("slut shaming"), die afmaak van verkragting as onbelangrik, die ontkenning van wydverspreide verkragting, die implisiete of eksplisiete weiering om te erken watter skade seksuele geweld veroorsaak, of 'n kombinasie hiervan, wat alles veroorsaak dat seksuele geweld so genormaliseer word dat verkragting en geslagsgeweld nie as 'n ernstige probleem beskou word nie. Verkragtingskultuur behels ook subtiele gedrag en die houdings en oortuigings in ons onderbewussyn wat onderliggend is aan ons patriargale kultuur in Suid-Afrika, waarin verkragtingskultuur vasgelê is.

Verkragtingskultuur sluit alle diskursiewe, visuele en oudiovorme van geslagsgeweld in wat geweld teen vroue en seksuele dwang normaliseer, waaronder seksistiese grappe en boodskappe deur media soos die televisie, musiek, reklame, sosiale diskoers en beeldmateriaal."