Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Robins-memoires een van vyf op kortlys vir die Sunday Times Alan Paton-toekenning
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 22/06/2017

Prof Steven Robins, 'n sosiale antropoloog en akademikus aan die Universiteit Stellenbosch, se memoires, Letters of Stone, is een van vyf boeke wat vir die Sunday Times Alan Paton-toekenning vir niefiksie genomineer is en die kortlys vir 2017 gehaal het. Die toekenning word gemaak met die medewerking van Porcupine Ridge.

In Letters of Stone boekstaaf Robins, 'n dosent in die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie aan die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, sy familie se desperate poging om Nazi-Duitsland en die konsentrasiekampe wat tot die dood van miljoene Jode gelei het, te ontvlug. 'n Enkele foto wat in sy gesin se huis uitgestal is en waarop sy grootmoeder, Cecilie, en sy tantes, Edith en Hildegard, verskyn, het die vonk verskaf vir sy diep persoonlike en pynlike weergawe van die ware gruwel en omvang van die Nazi's se rassebeleid teen Jode. Lees die volle verhaal oor Robins se memoires hier.

"Dit is vir my 'n vreugde en 'n eer om die kortlys te haal. Om só 'n persoonlike boek te kon skryf, was vir my en ons groter familie baie belangrik. Om erkenning vir die boek deur die Sunday Times Alan Paton-toekenning te ontvang, is 'n wonderlike bonus," sê Robins.

Die wenner van die toekenning word op Saterdag, 24 Junie, aangewys en kry R100 000 prysgeld.

Volgens 'n verklaring deur Pippa Green, die voorsitter van die beoordelaarspaneel, was daar onder die aanvanklike langlys, wat uit 26 boeke bestaan het, "'n aantal memoires, biografieë en outobiografieë wat die stories van intieme familieverhoudings uitbeeld teen die agtergrond van die ingrypende geskiedkundige kragte wat in die vorige eeu aan die werk was". Die ander lede van die beoordelaarspaneel sluit in prof Tinyiko Maluleke, 'n raadgewer aan die prinsipaal en visekanselier van die Universiteit van Pretoria en buitengewone professor aan die Universiteit van Suid-Afrika; en regter Johann Kriegler, 'n voormalige regter van die Konstitusionele Hof.

Vanjaar is die 28ste keer dat die Alan Paton-toekenning erkenning verleen aan 'n boek wat "die kollig werp op getrouheid aan die waarheid, spesifiek die vorme daarvan wat nuut, delikaat en ongewild is, en in die aangesig van mag seëvier", en wat van "deernis, fyn skryfwerk, en intellektuele en morele integriteit" getuig, lui die verklaring wat die Sunday Times uitgereik het.

"Die kortlys omvat 'n uiteenlopende verskeidenheid onderwerpe en geskiedkundige eras: van die herkoms van die mensdom tot die Marikana-voorval van slegs drie jaar gelede, van die hedendaagse Kaapstad tot die oorlogtydse Berlyn," vervolg die berig.

Die ander vier boeke wat die kortlys gehaal het, is Under Nelson Mandela Boulevard: Life Among the Stowaways deur Sean Christie, Darwin's Hunch: Science, Race, and the Search for Human Origins deur Christa Kuljian, Murder at Small Koppie: The Real Story of The Marikana Massacre deur Greg Marinovich, en My Own Liberator deur Dikgang Moseneke.

"Hierdie boeke stel kritiese vrae oor ons verlede, hede en toekoms," sê Pippa Green. "Die belangrike vraag wat gestel word, is: Wie is ons?"

Foto: Prof Steven Robins met sy memoires,
Letters of Stone, wat vir die kortlys vir die Sunday Times Alan Paton-toekenning gehaal het. (Lauren E.H. Muller)