Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veiligheidsriglyne vir US-personeel tydens die komende reses
Outeur: Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 22/06/2017

​Personeel word vriendelik versoek om ekstra waaksaam te wees deur op te let na verdagte persone wat kampusgeboue betree of poog om saam met personeel geboue binne te gaan tydens reses. Let asb op die volgende wenke:


Beveilig jou persoonlike eiendom
• Sluit u kantoordeur wanneer u dit verlaat, al is dit slegs vir 'n kort rukkie. Maak vensters toe, veral op die grondvloer, selfs al is daar diefwering.
• Moenie waardevolle artikels naby of in sig van vensters laat nie, ongeag of die vensters oop of toe is.
• Moenie kantoorsleutels wegsteek waar dit maklik gevind kan word soos bv. onder  ʼn deurmat nie.
• Sluit waardevolle items soos beursies, selfone en kontant in ʼn sluitkas toe.
• Moenie groot bedrae kontant in kantore hou nie.
• Neem te alle tye waardevolle persoonlike items saam gedurende die reses.
• Dit is altyd veiliger om saam in ʼn groep te stap. Wees bedag op u direkte omgewing en wees op die uitkyk vir verdagte optrede of vreemde gedrag.
• Selfone moet sover moontlik altyd onopsigtelik aan u persoon gedra word.
• Indien u vermoed dat u agtervolg word, verander van rigting en stap tot by die naaste plek waar daar mense is. Skakel Kampussekuriteit se noodnommer by 021 808-2333 of die SAPD by 10111 en meld dit aan.
• Moenie waardevolle items sigbaar in voertuie laat nie - dit lok misdadigers. Verwyder ook die radio/cd-speler se gesigplaat indien moontlik, en neem dit saam met u.
• ʼn Ratkasslot is die beste vorm van voorkoming teen motordiefstal.

Wenke ingeval u na ure in u kantoor werk
• Parkeer so na as moontlik aan die voordeur van u werkplek. Vermy afgesonderde, verlate parkeerareas. Parkeer snags slegs in ʼn goed verligte areas.
• Stap doelgerig en vinnig.
• Vermy donker of verlate areas.
• Let op na riskante gedrag van mense in u omgewing wanneer u die kantoor verlaat.
• Wanneer u die kantoor na donker verlaat, reël vooraf telefonies met Kampussekuriteit (bylyn 4666) om u te vergesel tot by u motor.

Toegangsbeheer by universiteitsgeboue
• Toegangsbeheer moet ten alle tye streng toegepas word, selfs gedurende die dag. Deure moet gesluit word sodat toegang slegs per kaart moontlik is.
• Bona fide besoekers moet deur die betrokke personeellid persoonlik ontvang word en die besoeker moet vergesel word totdat hy/sy weer die gebou verlaat.
• Moenie onbekende persone toegang tot US-persele gee nie.
• Indien ʼn kaart gesteel of verloor word, moet dit dadelik gekanselleer word.

Rapporteer verdagte persone op kampus
• Memoriseer die noodnommers van Kampussekuriteit:  021 808-2333 (Stellenboschkampus) en 021-938 9507 (Tygerberg en Bellvilleparkkampus) asook die SAPD-noodnommer: 10111. Rapporteer enige verdagte persone op kampus onmiddellik aan Kampussekuriteit en probeer om ʼn goeie beskrywing  te gee.