Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kerwin se visier op 2017 Wêreld Para-atletiekkampioenskap gestel
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 20/06/2017

​Om die groen en goud vir die eerste keer te dra by die IWAS Wêreldspele (Internasionale byeenkoms vir Rolstoel- en Amputasie-atlete) in 2011. Om vir die SA Wêreldkampioenskapspan gekies te word in 2013. Om in matriek as heelagter van Paul Roos Gimnasium se tweede span die verdoelskop vir die gelykopuitslag teen Grey Kollege te kon skop.

Dit is maar net 'n paar van Kerwin Noemdo (22) se sporthoogtepunte en hierdie BSc Bewaringsekologie-student in sy vierde jaar sal sonder twyfel nog 'n paar beleef wanneer hy van 14-23 Julie aan die 2017 Wêreld Para-atletiekkampioenskap in Londen deelneem.

Kerwin is saam met agt ander Maties Parasport-atlete – Charl du Toit, Anruné Liebenberg, Dyan Buis, Arnu Fourie, Ilse Hayes, Zanele Situ, Reinhardt Hamman en debutant Ruhan van Rooyen – ingesluit by die span wat Suid-Afrika by hierdie byeenkoms gaan verteenwoordig.

"Dit is 'n baie groot eer om weer my land te verteenwoordig en ek is ongelooflik bly, maar ook verlig. Ek het vanaf 2013 baie opofferings gemaak en ek was verskriklik teleurgesteld toe ek nie in 2015 by die Wêreldkampioenskapspan ingesluit is nie. Dit was 'n moeilike reis, maar ek is bly ek het deurgedruk."

Kerwin sal aan die gewigstoot- en diskusitems in die F47-kategorie vir mense met amputasies onder die elmboog deelneem en hy hoop om sy persoonlike beste afstand in albei items te behaal. Uiteindelik hoop hierdie atleet, wat maar 13 jaar oud was toe hy aan sy eerste nasionale kampioenskapsbyeenkoms deelgeneem het, om sy land by die Paralimpiese Spele te verteenwoordig.

As ongebore baba was die naelstring rondom sy gewrig gedraai en hy is met 'n klein, misvormde regterhand gebore. Dokters het 'n paar maande ná sy geboorte besluit om te amputeer.

Dit het hom nie daarvan weerhou om aan sport deel te neem nie.

"Ek het nie geweet hoe dit is om twee hande te hê nie en het geleer om met een hand te speel, en dienooreenkomstig aangepas. In die laerskool het ek sokker en krieket gespeel, en dan ook rugby tot matriek (2012). Ek geniet alle sportsoorte maar as ek 'n gunsteling moet kies, sal dit ongetwyfeld rugby wees."

Dit is daarom geen verrassing dat sy sportheld 'n rugbyspeler is nie – die voormalige All Black Dan Carter.

"Hy was stellig die beste speler van sy tyd, maar het altyd nederig voorgekom. Hy het net gedoen wat hy moes sonder om 'n bohaai op te skop of iemand aan te vat."

Bo en behalwe die feit dat Kerwin 'n student in sy finale jaar is wat hoop om die einde van die jaar graad te kry, oefen hy ook ongeveer 12 tot 14 uur per week onder die wakende oog van Karin le Roux – sy afrigter sedert 2010.

"Ek het aan die begin gesukkel (om sport en studies te balanseer), maar mens word gou daaraan gewoond. Jy moet 'n stelsel uitwerk wat vir jou pas. As jy eers 'n vaste roetine het, word dit makliker om gefokus te bly. "

Dit help om 'n inwoner van Huis Neethling – 'n US-koshuis wat hoofsaaklik studente-atlete huisves – te wees.

"Dit is voordelig om in hierdie omgewing te wees wanneer jou motivering min is. Ons verstaan mekaar, praat oor bekende dinge, en werk maniere uit om uitdagings te oorkom. Dit help ook as jy ander studente-atlete sien studeer en besef dat jy ook 'n paar uur agter die boeke moet bestee, anders raak jy agter."

Kerwin het bewaringsekologie gekies omdat hy 'n groot passie vir die natuur en veldlewe, veral wilde diere, het.

"Die bewaring van ekostelsels en veldlewe is van die uiterste belang vir ons oorlewing, en nie baie mense besef dit nie," sê hy.

Hy is ook 'n IMAS-beurshouer (Integrated Medicine and Science). Hierdie beurs word aan atlete toegeken wat uitsonderlik in hul sport presteer, en help die atleet om sy/haar prestasie te verbeter deur geïntegreerde intervensies wat die velde van sportgeneeskunde, prestasieverbetering en bemagtiging dek.

"Om 'n IMAS-beurshouer te wees, help op verskillende maniere. Dit help natuurlik om die finansiële las ligter te maak. Maar die dienste wat aan ons gebied word, of dit nou fisioterapiesessies, gimnasiumsessies of selfs sielkundige sessies is, is altyd waardevol. Die hele ondersteuningstruktuur speel 'n groot rol om die studente-atleet se lewe makliker te maak."

Kerwin maak ook op sy familie staat vir hul ondersteuning.

"Hulle het en sal altyd die grootste invloed op my lewe hê. Hulle speel almal 'n sleutelrol in wat ek doen en waarom ek dit doen."

Fotokrediet: Martin Potgieter, Bonzai Photograpby