Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voornemende onderwysers kan baat by filosofie
Outeur: Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 19/06/2017

Voornemende onderwysers wat graag opvoedkundige- en samelewingsuitdagings in hul spesifieke kontekste wil aanspreek moet ʼn goeie begrip van belangrike filosofiese konsepte hê.

Dít is een van die kernboodskappe van 'n nuwe boek deur dr Nuraan Davids en prof Yusef Waghid van die Departement Opvoedingsbeleidstudie in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Hul boek Philosophy and education as action: Implications for Teacher Education is onlangs deur Rowman & Littlefield – Lexington Series uitgegee.

Die boek beslaan tien hoofstukke en fokus op tien belangrike filosofiese konsepte, naamlik kennis, praktiese redenering, produktiewe aksie, opvoeding, vryheid van spraak, vernuf of kuns, deelnemende betrokkenheid, liefde en vriendskap, kosmopolitanisme en potensialiteit (hoe dinge kan wees in teenstelling met hoe dinge is).

Elke hoofstuk word aangebied as 'n gesprek tussen studente en dosente, en fokus op hoe die genoemde konsepte met onderrig en leer saamhang. Dit beklemtoon ook hoe aksie binne die filosofie van opvoeding aangemoedig kan word.

Die skrywers meen Philosophy and education as action: Implications for Teacher Education bied 'n genuanseerde en praktiese verstaan van hierdie konsepte aan voor-diens- en in-diens onderwysers, sowel as akademici en navorsers.

"Ons het die tien belangrike filosofiese konsepte geïdentifiseer om erkenning te gee aan voornemende- en in-diens onderwysers se voortgesette stryd om toegang tot die taal van die filosofie van opvoeding te verkry," sê Davids.

"Die boek is uniek in die sin dat dit poog om te reageer op voornemende onderwysers se besorgdhede oor die beroep en hoe die filosofie van opvoeding gebruik kan word om pedagogiese- en samelewingsuitdagings in Afrika aan te spreek," voeg sy by.

Die skrywers sê die boek wil ook hul studente se weerstand teen die filosofie van opvoeding aanspreek.

"Daar is verskeie redes vir hierdie weerstand. Enersyds kom die meerderheid studente in ons klas uit voorgraadse programme waar hulle nie voorheen met die filosofie van opvoeding te doen gekry het nie.  Gevolglik beskou hulle oor die algemeen die taal van die filosofie van opvoeding as onnodig kompleks en verwarrend."

"Andersyds kan die studente wat voorheen in filosofie onderrig is, of diegene wat dalk filosofie van opvoeding wil studeer, nie noodwendig laasgenoemde as belangrik vir die onderrig van vakke soos Engels, wiskunde of wetenskap beskou nie."

Die skrywers voer aan dat daar 'n verband is tussen filosofie en opvoeding wat die potensiaal het om praktyke rakende die opleiding van onderwysers te beïnvloed.

"Ons poog om relevante filosofiese konsepte in onderwys te verduidelik en kyk dan hoe hierdie konsepte onderrig, leer en bestuur as klaskamerpraktyke beïnvloed."

Die skrywers sê voor-diens en in-diens onderwysers, voor- en nagraadse studente, akademici en navorsers sal moontlik baat vind by die boek.

"Enigeen wat belangstel in die opleiding van onderwysers, onderrig en die filosofie van opvoeding, sal hierdie boek baie nuttig vind. Die boek het 'n groter aantrekkingskrag as gevolg van ons gedeelde ervarings met akademici en dosente van ander internasionale instellings."

  • Philosophy and education as action: Implications for Teacher Education is beskikbaar by Rowman & Littlefield – Lexington Series en Amazon.