Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TRU wil nodus vir demokrasienavorsing skep
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 15/06/2017

Grootskaalse korrupsie, wanadministrasie van staatsgeld en onbehoorlike bestuurspraktyke onder leiding van president Jacob Zuma hou die afgelope paar jaar 'n al hoe groter bedreiging in vir die stand van die Suid-Afrikaanse demokrasie. Dít blyk duidelik uit mediaberigte en verskeie politieke ontleders se openbare kommentaar. Ook in die res van die wêreld is demokrasie in gevaar weens toenemende populisme wat liberale waardes ondermyn.

Die Universieit Stellenbosch (US) se Transformasienavorsings-eenheid (beter bekend in Engels as Transformation Research Unit (TRU): Democracy Globally, oftewel TRU) oor Wêrelddemokrasie, wat in die Departement Politieke Wetenskap in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe geleë is, ondersoek die Suid-Afrikaanse demokrasie vergeleke met demokrasieë in Suider-Afrika en die res van die wêreld uit 'n politieke, ekonomiese en maatskaplike hoek. Nou het hulle kragte saamgesnoer met 'n aantal ander internasionale navorsingsorganisasies om te bepaal waarom demokrasie, wat in die euforiese tyd ná die ineenstorting van die voormalige Sowjetblok in die 1990's wêreldwyd versprei het, oënskynlik begin skeefloop.

"Die datasentrum wat ons beplan, is nie veronderstel om net nóg 'n data-argief te wees nie. Ons beoog eerder 'n 'Intelligente Nodus' waardeur ons data sal kan opspoor vir ontleding en onderrig op die algemene gebied van demokrasienavorsing. Hiervoor sal ons die navorsingsdatabasisse van bestaande internasionale argiefnetwerke deursoek. Sodoende sal ons tot die skep van nuwe kennis oor demokrasie kan bydra, spesifiek ook in Suid-Afrikaanse verband. En op die koop toe sal ons Suid-Afrikaanse maatskaplike navorsing by wêreldnetwerke help integreer deur middel van die Navorsingsdata-alliansie (RDA)," sê prof Ursula van Beek, die hoof van die TRU.

Die RDA is in 2013 deur die Europese Kommissie, die Verenigde State se Nasionale Wetenskapstigting en Nasionale Instituut vir Standaarde en Tegnologie sowel as die Australiese Departement van Innovasie van stapel gestuur. Die alliansie wil brûe bou sodat die wêreldnavorsingsgemeenskap data vryelik oor verskillende tegnologieë, vakrigtings en lande heen kan uitruil om die samelewing se grootste uitdagings die hoof te bied.

TRU volg uit die staanspoor 'n gemengde benadering in sy navorsing deur deurtastende kwalitatiewe nasionale studies met kwantitatiewe ontledings te kombineer. Die eenheid het oor die jare nog altyd swaar op empiriese data gesteun. Dít het die TRU se plaaslike en internasionale vennote aan die dink gesit en só het die gedagte van 'n datasentrum ontstaan.

"By 'n onlangse TRU-werksessie het deelnemers ook beraadslaag oor die toenemende behoefte dat nagraadse studente hulle vaardighede in kwantitatiewe navorsing slyp, wat in Suid-Afrika as 'n 'skaarsvaardigheidsgebied' beskou word," verduidelik Van Beek.

Daarom word 'n gelyklopende opleidingsprogram nou ook voorgestel om 'n groter groep vaardige jong vakkundiges vir die vasteland te voorsien.

"Internasionale kenners sal nagraadse studente touwys maak in die dataseleksieproses om hulle navorsingshipoteses te ondersteun, en die studente sal leer waar om hierdie data op te spoor en hoe om dit met behulp van ons Intelligente Nodus te ontleed."  

Daarbenewens het TRU onlangs een van twee vergelykende projekte oor demokrasie in Suid-Afrika, Zimbabwe, Namibië en Botswana voltooi.

"Dit is vir my aangenaam om te kan verslag doen dat die bevindinge van die span, wat almal self van Afrika kom, op 1 Julie 2017 in 'n spesiale uitgawe van die internasionale politieke vaktydskrif Taiwan Journal of Democracy sal verskyn."

"Die tweede projek waaraan die TRU werk, staan ook einde se kant toe en handel oor demokrasie in Suid-Afrika uit 'n wêreldoogpunt. Die navorsing het bevind dat demokrasieë die afgelope 20 jaar geloofwaardigheid inboet in lande soos Turkye, waar die onlangse referendum eintlik die einde van demokrasie daar beteken het; Pole, waar 'n populistiese regering nou aan bewind is, en natuurlik Suid-Afrika, waar power staatsbestuur tot radikalisme en polarisasie lei, wat niks goeds vir demokrasie voorspel nie."

"Dié teleurstellende bevindinge," sê Van Beek, "het ons oortuig dat verdere navorsing oor die stand van demokrasie in Suid-Afrika noodsaaklik is, en dat dié studie op gegronde empiriese bewyse moet berus. Ons wil konsentreer op maatskaplike saamhorigheid, wat tog is waaroor demokrasie uiteindelik gaan. Ons glo nie die probleem van maatskaplike saamhorigheid kan enigsins nog sinvol ondersoek word in afsondering van streeks- en wêreldtendense nie. Die globalisasie van kapitaal en die massabeweging van vlugtelinge en immigrante plaas te veel bykomende druk op pogings om op die nasiestaatvlak maatskaplike saamhorigheid te skep. Eweneens sal geen enkele navorsingsmetodologie op sy eie waarskynlik veel nuwe kennis en praktiese advies oor die onderwerp kan bied nie. Daarom het ons besluit om die Intelligente Nodus te skep en sodoende by wêreldnetwerke in te skakel."

FOTO: 'n Groep nasionale en internasionale akademici het onlangs deelgeneem aan 'n werksessie deur die Universiteit Stellenbosch se Transformasienavorsingseenheid (TRU) oor Wêrelddemokrasie. Voor, van links na regs, is dr Catherine Musuva (AU: Verkiesingskommissie), dr Cindy Steenekamp (US), prof Ursula van Beek (US), dr Nicola de Jager (US), PhD-kandidaat Annemie Parkin (US) en me Jordan Fredericks (honneursstudent, US). In die tweede ry is prof Dieter Fuchs (Universiteit van Stuttgart, Duitsland), prof Dirk Berg-Schlosser (Philipps-universiteit in Marburg, Duitsland), dr Webster Zambara (Instituut vir Geregtigheid en Versoening), prof Hans-Dieter Klingemann (Navorsingsentrum, Berlyn) en prof Ursula Hoffmann-Lange (Universiteit van Bamberg, Duitsland). In die derde ry is dr Krige Sieberts (US), prof Laurence Whitehead (Universiteit van Oxford), prof David Sebudubudu (Universiteit van Botswana) en me Helen Kores (MA-student, US).