Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vlak 4-waterbeperkings in Stellenbosch ingestel
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 07/06/2017

​Vanaf 1 Junie is Stellenbosch Munisipaliteit, net soos Stad Kaapstad, ook onderhewig aan vlak 4-waterbeperkings. Dít het 'n groot impak op hoe elkeen van ons water gebruik.

Volgens die vlak 4-beperkings mag water slegs gebruik word vir kook, drink en sanitasie. Elke persoon word ook beperk tot die gebruik van 100 liter water per dag.

"Dít beteken Universiteit Stellenbosch besproei nie meer sy tuine en sportgronde nie, selfs al het ons dit voorheen met 'n beperkte kwota nie-drinkbare water uit riviere gedoen. Die riviere het nie meer water beskikbaar nie. Ons beleef nou werklik 'n krisistyd en vra van elkeen om hul deel te doen. Vermorsing van water sal ernstig aangespreek word," sê John de Wet, Bestuurder: Omgewingsvolhoubaarheid by Fasiliteitsbestuur.

"Buiten dít wat ons in die omgewing op kampusse doen, het ons ook reeds waterbesparende stortkoppe in koshuise geïnstalleer en die kraankoppe van baddens in koshuise is verwyder om studente aan te moedig om kort te stort."   

Die onderstaande tabel dui die impak van vlak 4-waterbeperkings aan:

Water Crisis Notice - FB Afrikaans.jpg

Vir meer inligting, skakel John de Wet by jdewet@sun.ac.za of 021 808 9422.