Meer as 20% van Suid-Afrikaanse kinders toon simptome van posttraumatiese stresversteuring (PTSV) en het dringend behandeling nodig.
Navorsers aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) ondersoek tans nuwe moontlikhede om hierdie broodnodige sielkundige behandeling beskikbaar te stel in ʼn gewelddadige samelewing met ʼn hoë traumablootstelling soos dié van Suid-Afrika.
Hierdie navorsing is veral van belang tydens Nasionale Kinderbeskermingsweek van 27 Mei tot 2 Junie, waartydens op die welsyn van kinders gefokus word.
'n Studie toon dat 14,5% van alle jeugdiges aan PTSV-kriteria voldoen. 'n Verdere 10,3% voldoen deels daaraan, maar is steeds funksioneel aangetas.
Die FGGW-navorsing ondersoek hoe kinders en tieners wat traumamatiese gebeurtenisse ervaar het, berading in hul skole kan ondergaan deur geregistreerde verpleegkundiges wat deur ʼn kundige opgelei word.
"Ons hoop hierdie studie kan toegang tot broodnodige ondersteuning vir jeugdiges met PTSV in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika help verbreed," sê Jaco Rossouw, die hoofnavorser. Die navorsing maak deel uit van sy doktorale studie aan die FGGW se Departement Psigiatrie.
PTSV is 'n geestesgesondheidstoestand wat deur 'n traumatiese ervaring veroorsaak word, hetsy deur dit self te beleef of dit te aanskou. Net soos by volwassenes is PTSV dikwels chronies by kinders en adolessente. Dit kan langtermyn-lyding meebring, met ernstige nadelige gevolge vir die openbare gesondheidsektor en die ekonomie.
Simptome sluit in vermydingsgedrag, terugflitse, nagmerries en erge angstigheid, asook onbeheerbare gedagtes oor die gebeurtenis. Dikwels wil tieners met PTSV glad nie daaroor praat nie omdat dit sulke erge emosies ontlok.
Rossouw se studie ondersoek die doeltreffendheid van traumabehandeling wat geregistreerde verpleegkundiges, wat deur ʼn kundige opgelei word, aan sosiaalekonomies agtergeblewe jeugdiges in Kaapstadse hoërskole bied. "As hierdie behandeling suksesvol blyk te wees, kan dit aansienlik help om gemeenskappe se toegang tot gespesialiseerde geestesgesondheidsdienste te verbeter," meen Rossouw.
"'n Opgeleide professionele sielkundige kan 35 pasiënte in 'n week behandel. Met 10 beraders kan dié getal tot 350 styg. Jy het net 'n enkele gedragsterapie-kundige nodig om leiding aan die beraders te verskaf en oor hulle toesig te hou.
"Teen die agtergrond van die beperkte beskikbare sielkundige dienste in ons openbare gesondheidsektor, is dit noodsaaklik dat ons maniere vind om hierdie sielkundige ingrypings meer geredelik aan die breër bevolking beskikbaar te stel," sê Rossouw.
Die verpleegkundiges is opgelei om verlengde blootstellingsterapie asook ondersteunende berading te verskaf. Albei is bewese behandelings vir volwassenes en tieners met PTSV. "Tot op hede is dit nog nie werklik teen ons agtergrond getoets met verpleegkundiges as beraders en in 'n gemeenskapsopset nie," verduidelik Rossouw. Verlengde blootstellingsterapie het geblyk goed te werk in 'n gemeenskapsopset in Amerika en Israel. Ondersteunende berading word wyd in krisissentrums en in gemeenskappe gebruik om seksuele aanranding en ander traumas te behandel.
Die studie fokus op tieners wat óf self aan trauma soos fisieke of seksuele aanranding blootgestel is, óf fisieke of seksuele aanranding of 'n gewelddadige sterfte aanskou het. Die kinders is by hul onderskeie skole gewerf en het weekliks daar behandeling ontvang.
Die behandeling het verlengde blootstellingsterapie of ondersteunende berading in tot 14 sessies van 60 tot 90 minute elk behels. Die kinders is direk ná behandelings gemonitor, asook 'n paar keer daarna (insluitend 'n jaar later). Die kinders is behandel deur ses verpleegkundiges wat 'n jaar lange diplomakursus in gevorderde psigiatrie aan die US gedoen het. Daar was weeklikse toesig deur Rossouw, en die beraders het 'n drie dae lange werksessie oor verlengde blootstellingsterapie bygewoon. Hulle is ook 'n dag lank opgelei om ondersteunende berading te verskaf en moes praktiese opleiding van 16 uur voltooi.
Tot dusver lyk die resultate belowend, sê Rossouw. Dit lyk of die PTSV- en depressiesimptome van kinders wat een van hierdie behandelings ondergaan het, aansienlik verbeter het. Depressie gaan dikwels met PTSV gepaard en reageer op die behandeling van die PTSV. Voorts was die verbetering in PTSV- en depressiesimptome by die kinders wat verlengde blootstellingsterapie ondergaan het, volhoubaar. Die groep wat ondersteunende berading gekry het, het egter ʼn jaar ná die behandeling weer teruggeval.
Volgens Rossouw toon die voorlopige resultate dat verlengde blootstellingsterapie deur voorheen onervare beraders verskaf kan word. "Dit is bemoedigend om te sien dat verpleegkundiges binne 'n kort tydperk onder toesig opgelei kan word om berading in 'n ontwikkelende land met beperkte hulpbronne toe te pas."