Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gooi afval reg weg
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 25/05/2017

​Verminder, hergebruik en herwin vorm die grondslag van Universiteit Stellenbosch (US) se afvalbestuurstelsel en is die dryfkrag agter 'n hele paar innoverende kampusprojekte. Voorbeelde hiervan is die behandeling van ons kosafval om kompos te skep, die gebruik van organiese afval (soos blare, stukkies hout en gras) wat by die uitleg van parke, ens. weggegooi word en as 'n deklaag in ons tuine aangewend word en die verkoop van tweedehandse meubels by die Universiteit se meubelstoor. 

In 'n samelewing wat daaraan gewoond geraak het om items eerder te vervang as om dit reg te maak, streef die US daarna om die omgewing voorop te plaas deur toerusting in stand te hou en te herstel waar enigsins moontlik. Ou stukkende besproeiingstoebehore word hergebruik vir die herstel van beskadigde besproeiingstelsels, terwyl ou plaveisel wat verwyder word, weer gebruik of verkoop word. Waar plante en bome weens bouwerk of uitbreidings ontwortel word, word dit op ander plekke op kampus herplant. 

Ons is trots daarop dat ons met die instandhoudings- en dag-tot-dag-bedrywighede op ons kampusse aktief verminder, hergebruik en herwin net waar ons kan. Die gedrag van ons personeel en studente speel uiteraard 'n kritieke rol in die geloofwaardigheid van ons sterk afvalbestuurstrategie. Werklik klein veranderinge in jou daaglikse gewoontes het 'n groot impak op die hoeveelheid afval wat op ons kampus gegenereer word. Verbind jou daartoe om 'n wesentlike verandering teweeg te bring deur die volgende te doen:

  • Maak jou hervulbare waterbottel by enige een van die waterstasies op kampus vol. Om elke dag water te koop, is duur terwyl die bottels wat weggegooi word, afval genereer.
  • Bestel jou maaltye om daar en dan te eet, eerder as wegneemetes. Dit is dan nie nodig om weggooibare houers en messegoed te gebruik nie en beteken minder verpakking.
  • Gebruik eerder elektroniese kommunikasie as gedrukte pos.
  • Wanneer jy wel 'n dokument moet uitdruk, druk op albei kante van die papier.
  • Belê in herbruikbare winkelsakke – dit dek gou hul koste as jy dink aan al die geld wat jy gaan spaar deur nie plastieksakke te koop nie. Die winkelsakke is ook stylvoller en kan vir baie ander doeleindes gebruik word.
  • Vermy individueel verpakte "happiegroottes" wanneer jy inkopies doen. Grootmaat-inkopies beteken minder verpakking en is ook goedkoper.

Klik hier vir nog talle idees oor hoe jy jou afval kan verminder deur dit reg weg te gooi en terselfdertyd ook geld kan spaar.

Het jy enige voorstelle? Ons hoor graag van jou. Skakel vir John de Wet by 021 808 9422 of Meg Pittaway by 021 808 3776.