Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kartering van navorsing oor wetenskapkommunikasie oor meer as drie dekades
Outeur: Journal of Science Communication & Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 19/05/2017

Twee navorsers van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) het oor die afgelope jaar 'n "wêreldkaart van navorsing oor wetenskapkommunikasie" geskep op grond van die omvattendste bibliografiese ontleding tot nog toe van wêreldwye navorsingsuitsette oorwetenskapkommunikasie, wat nuwe lig werp op huidige tendense in dié verband. Hulle het ook uiters waardevolle aanbevelings gedoen oor 'n moontlike verbetering in diversiteit en die verteenwoordiging van ontwikkelende lande, wat in hierdie stadium ongelukkig steeds beduidend onderverteenwoordig is.

Hulle werk verskyn in die Journal of Science Communication (JCOM), 'n ooptoegangtydskrif oor wetenskapkommunikasie wat deur Sissa Medialab in Italië uitgegee word.

Hierdie mylpaalbydrae tot die vakgebied is die geesteskind van twee navorsers verbonde aan die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in wetenskapkommunikasie in die Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie (SENWET) – dr Lars Guenther, 'n nadoktorale genoot, en me Marina Joubert, 'n navorser oor wetenskapkommunikasie.

"Ons doel was om patrone en tendense te bepaal met betrekking tot die skrywers, instellings en lande wat aktief tot akademieskap op hierdie ontluikende navorsingsgebied bydra, sodat ons uiteindelik ook daardie aspekte kon uitwys wat aandag kort," sê Guenther en Joubert.

Navorsing op die gebied van wetenskapkommunikasie het sowat 50 jaar gelede na vore begin tree, en het sedertdien in 'n volwaardige akademiese ondersoekterrein ontwikkel. Volgens die navorsers onthul vroeë bevindinge oor navorsingsaktiewe skrywers en lande dat vakkundige werksaamhede op die gebied tradisioneel deur manlike skrywers van Engelssprekende lande in die Weste oorheers is. Hulle studie sluit 'n stelselmatige bibliografiese ontleding in van 'n volledige steekproef navorsingspublikasies in die drie mees vooraanstaande vaktydskrifte op die gebied oor die tydperk 1979 tot 2016.

"Ons bevindinge toon dat die aanvanklike ongelykhede steeds voorkom, maar daar is ook tekens dat onlangse toenames in navorsingsuitsette sowel as tendense in outeurskap – byvoorbeeld die styging in vroueskrywers – van hierdie wanbalanse begin regstel," sê die navorsers.

"Daarbenewens staaf hierdie studie vroeëre aanduidings dat navorsing oor wetenskapkommunikasie al hoe meer geïnstitusionaliseer en geïnternasionaliseer word. Dít blyk duidelik uit die toenemende getal referate wat op samewerking oor verskillende instellings dui, sowel as die uiteenlopende lande van waar skrywers kom."

Ondanks hierdie positiewe bevindinge, is die navorsers dit nietemin eens dat diversiteit op die gebied steeds tekortskiet. 'n Opvallende meerderheid van navorsingsbydraes in die drie hooftydskrifte op die gebied – Science Communication, Public Understanding of Science en JCOM – kom uit die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk en Australië, en vastelande soos Asië, Afrika en Suid-Amerika is steeds beduidend onderverteenwoordig.

Publikasies in ál drie tydskrifte het oor die algemeen mettertyd vermeerder, wat daarop dui dat "wetenskapkommunikasie aan die ontwikkel is as 'n gebied van vakkundige aktiwiteit". Tog is dit interessant om te sien dat die oorgrote meerderheid (82,3%) van die altesaam 2 680 unieke outeurs in die studie wat tot gepubliseerde navorsing bygedra het, slegs een keer in die hooftydskrifte gepubliseer het. Dat "slegs 28 navorsers ses of meer artikels (oor die hele tydperk sedert 1979 en in ál drie tydskrifte saam) gepubliseer het", is boonop dalk 'n aanduiding dat daar steeds "betreklik min navorsingsleiers op die gebied is". Die meeste van die artikels (74%) is deur slegs een of twee outeurs geskryf, en gesamentlike navorsingsreferate deur navorsingspanne is seldsaam (slegs 5% van alle navorsingsuitsette is deur vyf of meer outeurs geskryf).

'n Uiters nuttige voorstel deur Guenther en Joubert om te keer dat sommige lande ander se bydraes verder oorskadu, is dat "in plaas daarvan om navorsingsreferate van skrywers in ontwikkelende lande aan te vra, diversiteit in navorsingsouteurs dalk doeltreffender gestimuleer kan word deur navorsingsamewerking aan te moedig en reeds vanaf die aanvang van multinasionale navorsingsprojekte navorsers van ontwikkelende lande in te sluit".

Die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel inwetenskapkommunikasie word deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT) en die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ondersteun.

Foto: Dr Lars Guenther en me Marina Joubert het navorsing oor wetenskapkommunikasie oor meer as drie dekades gekarteer.