Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US neem leidende rol in navorsing op die vasteland
Outeur: Amanda Tongha
Gepubliseer: 17/05/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) speel 'n leidende rol om Afrika se navorsingsbehoeftes aan te spreek. Die US is een van sestien universiteite  in Afrika wat deelneem aan aktiwiteite van die nuut gestigde Afrika Navorsingsuniversiteite Alliansie (ARUA). Die alliansie sluit in die top navorsingsuniversiteite van Suid-Afrika, Nigerië, Ghana, Tanzanië, Kenia, Rwanda, Senegal, Uganda en Ethiopië. Hulle gaan saamwerk om navorsing op die vasteland te bevorder en te versterk. Die US sal saam met die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van KwaZulu-Natal en Rhodes Universiteit Suid-Afrika verteenwoordig.

Tydens 'n besoek aan die US op 16 Mei, het prof Ernest Aryeety, sekretaris van ARUA, gesê deelnemende universiteite kan wedersyds baat vind by die netwerk. Hy het die US uitgesonder as 'n instansie wat die "pas aangee" en gesê ander universiteite kan voordeel daaruit trek. "Deur saam te werk met diegene wat sukkel en hulle op te hef kan ons as wêreld mededingende universiteite uitstyg. Prof Aryeety, 'n voormalige visekanselier van die Universiteit van Ghana, het US navorsers wat oor  dertien ARUA-geïdentifiseerde navorsingsgebiede  gaan saamwerk toegespreek.  Altesaam 35 US-navorsers gaan  in dissiplines soos  klimaatsverandering, voedselveiligheid, nie-oordraagbare siektes, materiaalontwikkeling en nanotegnologie, waterbewaring, energie en geesteswetenskappe en wetenskap dissiplines soos identiteit,  mobiliteit en migrasie, armoede en ongelykheid, werkloosheid en vaardigheidsontwikkeling saamwerk.

 "Dit gaan nie oor visekanseliers nie. Dit gaan oor individue soos julle wat met ander in Afrika saamwerk," het hy aan hulle vertel.  Prof Aryeety het ook met prof Hester Klopper, adjunk-Visekanselier: Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisering ontmoet en besoek aan die Fakulteit Ingenieurswese, Universiteit Stellenbosch Telematiese  Dienste en Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studies (STIAS) afgelê.

Die aanvanklike aktiwiteite wat vir ARUA beplan word sluit in gesamentlike navorsingsprojekte vir personeel, 'n doktorale navorsingsimposium vir studente  asook 'n kapasiteitsbouprogram wat navorsingsbestuurders en hul onderskeie kantore sal help. Prof Aryeety, besoek tot Augustus deelnemende universiteite  en voer ook gesprekke  oor ARUA sentrums vir uitnemendheid wat by die onderskeie universiteite gesetel sal wees. Die US toon belangstelling in 'n Sentrum van Uitnemendheid in Nanotegnologie.

Die ARUA program word by die US gekoördineer deur prof Hester Klopper, mnr Robert Kotze, Senior Direkteur: Universiteit Stellenbosch Internasionaal; mnr Nico Elema, Bestuurder: Sentrum vir Samewerking in Afrika (by Universiteit Stellenbosch Internasionaal); dr Therina Theron, Senior Direkteur: Afdeling Navorsingsontwikkeling en me Norma Derby, Koördineerder: Sentrum vir Samewerking in Afrika.

Foto: Van links: prof Hester Klopper, prof Ernest Aryeety en mnr Nico Elema