Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meer wetenskaplikes nodig om mikro-organismes te klassifiseer
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 26/04/2017

Die wêreld benodig meer wetenskaplikes om die groot aantal mikro-organismes, soos swamme, volgens hul eienskappe in klasse, families en spesies te klassifiseer.

Só meen prof Karin Jacobs van die Departement Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het Dinsdag (25 April 2017) haar intreerede in die US-konservatorium gelewer.

Jacobs het gesê een van die hoekstene van goeie wetenskap is die vermoë is om organismes en molekules korrek te klassifiseer. Sy het bygevoeg dat taksonomie - die praktyk en wetenskap van klassifikasie - noodsaaklik is om alle biodiversiteit te karteer en te dokumenteer.

"Goeie taksonomie laat wetenskaplikes toe om inligting oor 'n groep van een of meer populasies van 'n organisme of organismes  akkuraat te kommunikeer. Dit help ook om spesies te identifiseer en te beskryf."

"Dit maak dit makliker om miljoene organismes te bestudeer en stel ons in staat om gedrag en verhoudings te verstaan."Jacobs.JPG

Jacobs het egter gesê hoewel dit belangrik is om organismes te identifiseer en te klassifiseer taksonomie nie gesien word as 'n kritiese area waarin wetenskaplikes opgelei moet word nie.

"Wat dit moeiliker maak, is dat dit lank vat om as ʼn taksonoom opgelei te word en jare se ondervinding verg om 'n kundige op dié gebied te word."

"By institute regoor die wêreld word baie poste in taksonomie gesny weens ʼn tekort aan befondsing  en 'n gebrek aan opgeleide mense. Dit is veral kommerwekkend aangesien baie van die globale diversiteit nog nie opgeteken of gedokumenteer is nie."

Jacobs het die waarde van taksonomie geïllustreer deur te verwys na die klassifikasie van die groot verskeidenheid swamme wat ʼn rol speel in die verandering van vullis in kompos, die verroting van bome wat in woude val en die verloop van lewensbelangrike voedingssiklusse.

Sy het gesê baie swamme wag om ontdek te word.

Jacobs het gesê aangesien swamme verantwoordelik is vir alledaagse produkte soos yoghurt, kaas en bier, maar ook ons kos en gewasse bederf en selfs op ons liggame groei, moet ons meer oor hulle weet.

Met verwysing na die werk wat voorlê het Jacobs gesê "as 'n mens in ag neem dat die taksonomie-gemeenskap gemiddeld sowat 1 200 spesies per jaar beskryf, sal dit ongeveer 1 000 jaar neem om al die bestaande swamspesies te vind en te dokumenteer, dis nou as ons aanvaar daar is geen evolusie  nie."

"Dit sal nog tyd neem voor daar na 'n openbare databasis met strepieskodes vir swamme is."

Jacobs gesê daar is ʼn behoefte om bestaande projekte uit te brei en ons land se swambiodiversiteit te beskryf.

  • Foto 1: Pixabay
  • Foto 2: Prof Karin Jacobs (middel) saam met profs Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, en Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, by die intreerede. Fotograaf: Justin Alberts