Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe MPhil teiken babas se geestesgesondheid
Outeur: Carine Visagie
Gepubliseer: 24/04/2017

​Met die bekendstelling van die nuwe MPhil-graad in die Geestesgesondheid van Babas word ʼn belangrike opvoedkundige leemte in Afrika uiteindelik aangepak. Danksy dié kursus, wat sedert Januarie 2017 by die Universiteit Stellenbosch aangebied word, word gereguleerde, kultureel-sensitiewe opleiding in die geestesgesondheid van babas en jong kinders vir die eerste keer in Afrika aangebied.

Tans verskaf die meeste terapeute in Afrika-lande behandeling en geestesgesondheidsintervensies aan babas en hul gesinne op grond van hul opleiding aan die bekende Tavistock-kliniek in die Verenigde Koninkryk of ander internasionaal-geakkrediteerde programme. Maar volgens dr Anusha Lachman, programkoördineerder van die nuwe MPhil-kursus van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, bied Afrika unieke uitdagings wat nie voldoende gedek word in kursusse wat in ontwikkelde lande saamgestel is nie.

Die doel van die nuwe graad is om professionele gesondheidswerkers in staat te stel om kultureel-sensitiewe terapie en intervensies op voetsoolvlak toe te pas, sê Lachman. Die einddoel is om klinici te leer hoe om vroeë risikoprosesse te identifiseer wat psigopatologie in kinders meebring. Hulle leer ook hoe om gemeenskapstelsels aan te pas deur meer bewysgebaseerde, plaaslik relevante praktyke toe te pas.

Die eerste 1 000 dae tussen bevrugting en babas se tweede lewensjaar word wêreldwyd ooreenkomstig 'n doelwit van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) as ʼn belangrike tydperk vir primêregesondheidsorg-intervensies geteiken. "Die eerste 1 000 dae van ʼn kind se lewe word as ʼn gulde geleentheid beskou om die ontwikkelende bababrein te beskerm en die effek van toksiese stres te verminder. Die nuwe MPhil-graad in die Geestesgesondheid van Babas strook volkome met hierdie inisiatief," sê Lachman.

Altesame agt studente is tans vir die kursus ingeskryf, waarvan vyf by private praktyke in die Wes-Kaap werk en van private finansiering gebruik maak, en drie in diens van die openbare gesondheidsektor is en deur die Harry Crossley-stigting gefinansier word.

Hierdie deeltydse kursus strek oor twee jaar. Dit sluit ʼn verskeidenheid van modules in wat studente eers aan die veld van die geestesgesondheid van babas bekend stel, waarna hul kliniese vaardighede ontwikkel word. Benewens 'n navorsingskomponent, sluit modules ʼn aangepaste weergawe van baba-waarneming en praktiese kliniese blootstellings in, asook teoretiese modules oor die ontwikkeling van babas, psigopatologie, familie-stelsels en bewysgebaseerde intervensies.

Die graad is ideaal vir professionele gesondheidswerkers op die gebied van geestesgesondheid, spesiale onderwys, kindersorg, kinderwelsyn en maatskaplike dienste. Enigeen met ʼn honneursgraad wat met babas en kinders werk en by die relevante beheerliggaam geregistreer is, kan egter aansoek doen.

Kontak Lachman by (021) 938 4573 of stuur ʼn e-pos na anusha@sun.ac.za vir meer inligting.