Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fellowships boost research
Genootskappe gee navorsing ʼn hupstoot
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 20/04/2017

Daar is geen tekort aan talent by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe nie en die Discovery-stigting het onlangs genootskappe aan ’n paar van hierdie weetgierige individue toegeken.

Die beurse sal hul navorsing en akademiese loopbane ondersteun en bydra tot kennisinsameling wat in Suid-Afrikaanse gemeenskappe teruggeploeg kan word. Hul navorsing sal relevante plaaslike uitdagings aanpak, met inbegrip van pulmonêre hipertensie, geslagsgebaseerde geweld en die risiko vir posttraumatiese stresversteuring (PTSV), asook die doeltreffendheid van ’n derdevlak-antiretrovirale (ARV) verwysingsproses.

Hier volg ’n kort oorsig van die interessante kwessies wat ondersoek gaan word en die passievolle navorsers wat dit gaan aanpak:

Dr Brian Allwood, konsultant-pulmonoloog, Afdeling Pulmonologie

Wat: Die Discovery Foundation Massachusetts General Hospital Fellowship, Boston. Allwood sal van 1 Mei 2017 af ’n jaar lank by dié wêreldbekende Amerikaanse hospitaal werk en navorsing doen.

Hoekom: Om waar te neem hoe geneeskunde in ’n ander konteks toegepas word en om blootstelling aan internasionale meningsleiers op hul vakgebied te bekom. Volgens Allwood word pulmonêre hipertensie en interstisiële longsiektes (ILS) in Suid-Afrika afgeskeep en het min plaaslike pulmonoloë ondervinding in die moderne bestuur van dié siektes.

“Ons het oor die afgelope twee jaar ʼn diens vir beide ILS en pulmonêre hipertensie by die Tygerberg-hospitaal ingestel. Dit is egter dikwels moeilik om dié siektes akkuraat te diagnoseer en doeltreffend te behandel. Ek hoop om kennis, vaardighede en ondervinding terug te bring wat ek met ander Suid-Afrikaners kan deel, asook om navorsing oor hierdie siektetoestande in ons plaaslike konteks te inisieer.”

Allwood se PhD het oor post-tuberkuloselongsiekte gehandel en hy wil die kennis wat hy in Boston opdoen, op verdere navorsing in hierdie spesialisgebied toepas. “Daar is baie oorvleueling tussen die siektes. Post-tuberkuloselongsiekte vertoon dikwels soos erge longfibrose (byvoorbeeld die interstitiële longsiektes), asook pulmonêre hipertensie.”

Slotsom: “Só ʼn geleentheid kom net een keer in ’n leeftyd. Ek is die Discovery-stigting baie dank verskuldig. Ek weet die ervaring sal my wêreldbeskouing verbreed en my hopelik in staat stel om dinge in ’n nuwe lig te sien.”

Dr Sadiyya Sheik, Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid, Departement Globale Gesondheid

Wat: Discovery Foundation Academic Fellowship (MMed) 

Hoekom: Sheik se studie sal die doeltreffendheid van ’n derdevlak- ARV-verwysingsprogram ondersoek. “Ek wil vasstel of volwasse pasiënte in die Wes-Kaap wat vir derdevlak- ARV-behandeling kwalifiseer, wel verwys word en indien nie, watter faktore daartoe bydra dat hulle nie verwys word nie,” verduidelik sy.

“Suid-Afrika se MIV-program het ’n nuwe era betree waarin derdevlak-behandeling ’n noodsaaklikheid geword het. Synde die eerste staatsektorprogram wat toegang tot derdevlak-behandeling bied, besef ons dit is die eerste keer dat dit gedoen word en dat die res van die wêreld hul lesse uit ons suksesse en foute sal leer. Dit beteken daar is ʼn behoefte om te bepaal of die model wat ons gebruik om toegang tot behandeling moontlik te maak, wel werk.”

Slotsom: “Openbare gesondheid het my nog altyd aangetrek. Ek glo ek kan ’n groter impak op Suid-Afrikaners se gesondheid hê deur op ’n gemeenskapsvlak te werk. Ek hoop die navorsing kan toegang tot derdevlak- ARV-behandeling help verbeter vir diegene wat dit nodig het.”

*Ander ontvangers van die Discovery Foundation Academic Fellowship (MMed) is Dr S Baboolal (Afdeling Oftalmologie), Dr N Menze (Afdeling Psigiatrie) en Dr S Nhlabati (Departement Psigiatrie).


Dr Eileen Thomas, konsultantpsigiater vir Konsultasie-skakelingpsigiatrie by die US en Tygerberg-hospitaal

Wat: Discovery Foundation Academic Fellowship (PhD) 

Hoekom: Thomas se navorsing maak deel van ’n groter longitudinale studie deur die Mediese Navorsingsraad uit. Dit bekyk die rol wat adiponektien, ’n hormoon wat deur vetweefsel in die liggaam afgeskei word, moontlik kan speel in die voorspelling van die ontwikkeling van post-traumatiese stresversteuring en metaboliese siektes by Suid-Afrikaanse vroue wat verkragting oorleef het.

“Ons weet reeds dat adiponektien by verskeie endokriene funksies betrokke is en dat ’n tekort aan dié hormoon verbind word met gesondheidstoestande soos hipertensie, diabetes en hartsiektes,” sê sy.

“Pre-kliniese studies in PTSV-diermodelle het getoon dat lae adiponektienvlakke of die wanfunksionering van die geen-reseptore ook die ontwikkeling van PTSV kan voorspel en dat dit op behandeling reageer. In my studie sal ek dus ondersoek instel of adiponektien as biomerker gebruik kan word om die aanvang, erns en tydbepaling van PTSV, asook die ontwikkeling van metaboliese siektes, te voorspel.”

Volgens Thomas fokus die navorsing op sleutelprioriteite in Suid-Afrika se openbare gesondheidsektor, insluitend geslagsgebaseerde geweld, nie-oordraagbare siektes en geestesgesondheid. Sy hoop dit sal die weg help baan vir die ontwikkeling van nuwe PTSV-behandeling.

Slotsom: “Die Fakulteit sal by die studie baat vind deurdat dit samewerking tussen dissiplines soos genetika, psigiatrie en geneeskunde verder sal bevorder en hopelik ander studente sal lok om hul doktorale studies by ons universiteit aan te pak.”


*'n Discovery Foundation Academic Fellowship for Masters by Dissertation is ook aan Dr J Hellig van die Afdeling Endokrinologie toegeken.

*Die Departement Psigiatrie het ook ’n subspesialis-opleidingsgenootskap in Geriatriese Psigiatrie vir Dr MT Parker (genoot) ontvang.