Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tegniese én sosiale vaardighede sleutel tot sukses
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 19/04/2017

Selfs fisici moet duidelik kan kommunikeer en hul werk aan mede-werkers en die algemene publiek kan verduidelik.

Dit was die sentrale boodskap wat aand studente en personeel van die Departement Fisika oorgedra is ná 'n praatjie deur US alumnus en laser fisikus Dr Torsten Scheidt oor die vereistes wat aan 'n fisikus in tegnologies gesofistikeerde industrieë gestel word. Dr Scheidt, wat oor twee PhDs van onderskeidelik die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Jena in Duitsland beskik, is tans tegniese direkteur van Carl Zeiss Optics in Hongarye.

"Terwyl die tegniese vaardighede van 'n fisikus altyd hoogs aanbeveel word, kan jy nie net daarop staatmaak nie. Jy het ander vaardighede ook nodig," het hy gesê, "veral sosiale vaardighede."

Dit is omrede die werksomgewing van industrie drasties met dié van universiteit verskil. In industrie moet jy met verskillende mense met verskillende vlakke van kennis en ervaring kommunikeer om iets gedoen te kry. En dikwels moet dit in skofte gebeur, voeg hy by. Op universiteit doen jy jou eie eksperimente en praat jy meestal met jou studieleier en mede-studente.

Dus, ten einde saam met 'n span mense te werk, van ingenieurs tot produksie- en bemarkingspanne, is vaardighede soos om verhoudings te bou en vertroue te bewerkstellig, asook die vermoeë om kompromieë aan te gaan en te onderhandel, dikwels dié sleutel tot sukses.

"Met ander woorde, nie-tegniese probleme kan nét so kompleks wees!" voeg hy by.

Hy het uitgebrei oor sy ervaring in die tegnologie en ontwikkelingsomgewing toe hy die optiese proses tegnologie vir die stabiele produksie van laser toerusting by Carl Zeiss in Duitsland moes ontwikkel het; sowel as sy tyd in Suid-Afrika toe hy daarmee getaak is om die optiese produksielyn te verbeter ná die samesmelting tussen Denel en Carl Zeiss.

"Die trots van die Suid-Afrikaanse verdedigingsindustrie was in die moeilikheid, met die Duitsers op hul voorstoep! Dit was waarlik 'n geval van 'boer maak 'n plan' gekombineer met Duitse presiesheid," het hy gegrap.

In dié geval moes hy sy vaardighede ontwikkel om die veranderingsproses te bestuur en terselfdertyd spanne te motiveer om saam te werk, sowel as om te weet wanneer jy vir die regte tipe van hulp moet vra wanneer planne nie uitwerk nie.

Dr Scheidt het ook uitgebrei oor die waarde van 'n PhD: "Dit is wel die moeite werd om 'n doktorsgraad te doen en daardie vlak van spesialiskennis te ervaar, al is dit net vir daardie een keer in jou lewe. Jy sal altyd oor daardie analitiese en probleemoplossingvaardighede beskik, maar dit is ook belangrik om te weet wanneer jy daardie spesialiskennis nodig het om 'n probleem op te los en om die regte mense te identifiseer wat dit kan doen."

Hy het gesê fisika studente moet waak teen die stereotipe dat fisici net gemoeid is met die heelal en in hul eie wêreld leef met geen sin vir dringendheid nie.

"Pas aan en stel jouself oop, maar gebruik nog steeds jou tegniese vaardighede. Kom uit jou hoekie en kommunikeer en jy kan die wêreld se verskil maak," het hy afgesluit.

Op die foto, voor in die middel, Dr Torsten Scheidt omring deur nagraadse studente en personeel van die US se Departement Fisika.