Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die NNS ORCID verklaring
Outeur: Marié Roux
Gepubliseer: 12/04/2017

​Die Nasionale Navorsingstigting (NNS) het op Vrydag 7 April 'n verklaring uitgereik oor die vereiste om 'n ORCID iD te gebruik in alle befondsings- en graderingsaansoeke. Die NNS se lidmaatskap tot ORCID verseker dat navorsers en hul instellings voordeel sal trek uit toegang en integrasie met die ORCID-netwerk. Hulle is in die proses om alle aansoek- en befondsingsbestuursprosesse en -sisteme te integreer met ORCID. Hulle oorweeg dit ook om met ORCID te integreer om die oplaai van navorsingsuitsette na die navorsersprofiele en navorsingsverslae te vergemaklik. Lees die NNS ORCID verklaring hier

Wat is ORCID?

Die netwerk bestaan uit 16-syfer identifikasienommers wat skrywers van wetenskaplike navorsingspublikasies op 'n unieke manier van mekaar onderskei (bv. http://orcid.org/0000-0001-5109-3700). Sodoende word verseker dat skrywers vir die duur van hul loopbane, en daarna, met hul aanlyn- navorsingsaktiwiteite verbind word.

ORCID en Universiteit Stellenbosch

Soos jy reeds weet, is Universiteit Stellenbosch vanaf 2015 'n lid van die Open Researcher and Contributor ID (ORCID) netwerk. Universiteit Stellenbosch nooi jou uit om jou ORCID iD met jou universiteitsrekord te skakel ten einde die integrasie van ORCID iDs oor stelsels heen op 'n beheerde manier moontlik te maak.

Terwyl dit nou verpligtend is om 'n ORCID iD te hê wanneer jy aansoek doen vir NNS-befondsing of -evaluerings, wil ons graag vra dat jy jou ORCID iD met die Universiteit Stellenbosch integrasie koppel wanneer jy 'n iD skep. Gebruik asseblief die skakel hieronder om dit te doen. Indien jy reeds oor 'n ORCID iD beskik, teken asseblief op jou rekening aan en skakel jou ORCID iD met jou universiteitsrekord.

Skep of koppel jou ORCID iD

Hulp

Lees asseblief die ORCID biblioteekgids indien jy meer inligting benodig, byvoorbeeld oor die voordele van die gebruik van ORCID en die voordele om jou iD met jou Universiteit Stellenbosch identiteit te koppel. 

Navrae: Kontak jou Fakulteitsbibliotekaris of Marié Roux, tel.: 021-8082623.