Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Arrestasies gemaak na Lydia-aanranding
Outeur: Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 05/04/2017
Opdatering - Vrydag 7 April:
Knap speurwerk deur ondersoekbeamptes van die Universiteit Stellenbosch (US) Kampussekuriteit het daartoe gelei dat drie verdagtes wat verbind word met die aanranding van ʼn vrouestudent voor die Lydia Vrouekoshuis, teen Donderdagoggend (6 April) gearresteer is.
Die beamptes het verskillende leidrade opgevolg waaronder beeldmaterial, getuienisverklarings en voertuig-identifikasie. Die inligting is aan die SAPD oorhandig wat die arrestasies gemaak het.
ʼn Ongeïdentifiseerde man het Dinsdagaand (4 April) die vrouestudent, ʼn inwoner van die koshuis, onsuksesvol probeer beroof van haar skootrekenaar en selfoon. Sy is egter met ʼn skerp voorwerp in die bors gesteek.
Die voertuig waarmee die verdagtes weggejaag het, is geïdentifiseer as ʼn voertuig van ʼn ander US-student wat Woensdag (5 April) as vermis by Kampussekuriteit aangemeld is. Dié student is intussen opgespoor.
 
Oorspronklike artikel - Woensdag 5 April:
Die Universiteit Stellenbosch gemeenskap het met kommer kennis geneem van 'n voorval waarin 'n onbekende man rondom 22:00 gisteraand ( 4 April 2017) sonder sukses probeer het om 'n vrouestudent voor Lydia-vrouekoshuis van haar selfoon en skootrekenaar te beroof.
Die student, 'n inwoner van Lydia, is in die bors gesteek. Die man het in 'n kar wat in die straat geparkeer was gevlug. Kampussekuriteit het vinnig reageer en die nodige ondersteuning aan die student gebied.
Sy is vanoggend (Woensdag, 5 April) vroeg uit die hospitaal, waar sy vir haar beserings behandel is, ontslaan. Die student word deur haar ma, mede-inwoners, vriende, beradingsdienste en lede van die Studenteraad ondersteun. Berading is vir die student en die koshuis as 'n geheel aangebied.
Die veiligheid van studente en personeel is en bly 'n prioriteit vir die bestuur van die US en Kampussekuriteit se Mobiele Reaksie-eenheid sal hul huidige strategie in ooreenstemming met gisteraand se gebeure aanpas.
Berading vir student is beskikbaar via die Krisisdiens by 082 557 0880. Kampussekuriteit se noodnommer is 021 808 2333. Die Maties ER24-nommer is 010 205 3032.