Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Project Flamingo
Naweek-operasies knip waglys kort vir borskankerpasiënte
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 04/04/2017

Toe dr Ilna Conradie verlede jaar op soek was na alternatiewe maniere om die borskankerchirurgie-waglyste by Tygerberg Hospitaal (TBH) te verkort, het sy op Project Flamingo afgekom. Dit is 'n liefdadigheidsprogram wat "inhaal"-operasies oor naweke doen om wagtye vir borskankerpasiënte te verkort.

 "Die wagtyd is tans drie maande. Ek ken self mense na aan my wat geraak is deur borskanker. Dit is ondenkbaar dat mense met dié diagnose moet rondloop en so lank wag vir chirurgie," sê Conradie, 'n spesialis-konsultant by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Chirurgie.

 Project Flamingo is 'n nieregeringsorganisasie wat in 2010 deur dr Liana Roodt gestig is om tydige chirurgie aan pas-gediagnoseerde borskankerpasiënte by die Groote Schuur-hospitaal te help bewerkstellig. Roodt was gretig om te help toe sy hoor Conradie het dieselfde doel. Die waglyste by Groote Schuur het reeds van 10 weke na twee tot vier weke gekrimp, en Conradie hoop om uiteindelik dieselfde reg te kry by TBH.

 Toe Conradie begin rondvra, het sy agtergekom baie van haar kollegas by TBH is ook bereidwillig en entoesiasties om te help, en dit het haar verder gemotiveer. "Ons kan nie terugsit en vir iemand anders wag om die probleem op te los nie."

 Sy en Roodt het verlede jaar op 12 November en 10 Desember op twee Saterdag "toetslyste" aangepakom te bepaal of hulle dit op 'n meer gereelde basis sal kan doen.

 "Die lyste het seepglad verloop, en na die tweede lys het dr Roodt my gekontak met datums vir 2017," vertel Conradie.

 Daar is ses datums vir vanjaar vasgemaak, waarvan die eerste op 11 Februarie suksesvol afgehandel is. "Dit was 'n dubbele lys wat in totaal 11 pasiënte gehelp het. Op die enkellyste help ons gemiddeld sewe pasiënte per dag."

 Sy sê indien hulle in 2017 suksesvol is met al hulle lyste, sal die wagtydperk by TBH reeds met 'n hele maand verminder.

 Die projek maak staat op vrywilligers en Project Flamingo dek die kostes van die verpleegpersoneel en eetgoed vir die span vir die dag. TBH dra die teaterkostes.

 Conradie sê daar is verskeie maniere waarop vrywilligers  kan bydra. "Die lyste word vir Saterdae geskeduleer en ons benodig altyd een narkotiseur, een chirurg, een assistent, vyf teaterpersoneellede, en 'n gemotiveerde span in die saal." Die lys wat hulle in Februarie gedoen het, het ook 'n ginekoloog en plastiese chirurg ingesluit wat gehelp het om 'n operasie op 'n BRCA-draer te doen.

 Conradie sal graag wil hê dat alle pasiënte op hul lyste met toelating ook bederfpakkies kan ontvang om hulle spesiaal te laat voel.

 "Borskanker is so algemeen in ons samelewing en die meeste van ons ken iemand wat daardeur geraak is. Dié projek gee ons almal 'n geleentheid om 'n daadwerklike verskil te maak."