Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties se Simmonds vir KSA se Nasionale Akademie gekies
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 04/04/2017

Steinhoff Maties-krieketspeler Kyle Simmonds is genooi om Krieket Suid-Afrika se Nasionale Akademie by te woon.

Die Nasionale Akademie-program begin op 22 Mei en duur tot die einde van Julie. Daarna sal die SA Opkomende groep vir die toer na Sri Lanka in Augustus gekies word.

Kyle het 'n uitstekende seisoen beleef tot dusver, en het 50 eersterangse paaltjies in net 11 wedstryde behaal.

Volgens hierdie tweedejaar-Matie was dit sy doel om eendag by die Akademie aan te sluit. "Na my twee jaar by die Dolphins se akademie (2013-2014) het ek wel planne gehad om hopelik eendag die Nasionale Akademie by te woon, maar ek het nie 'n uitnodiging aan die begin van die 2016/2017-krieketseisoen verwag nie. Ek was egter gelukkig om 'n goeie begin tot die seisoen te maak en is baie dankbaar dat ek gekies is. 'n Paar van my spanmaats by Boland het ook die Akademie bygewoon en dit is goed om te hoor wat ek kan verwag. Ek sien uit na die uitdaging wat voorlê."

Vir Simmonds is 'n groot motivering die feit dat baie spelers wat in vorige jare na die Nasionale Akademie genooi is, intussen franchise-krieket begin speel het. "Dit is iets wat my sal dryf om te groei as 'n krieketspeler terwyl ek in Pretoria is. Wat my loopbaan betref, wil ek wil nie te ver vooruit kyk nie. Ek fokus nou net op die geleentheid wat ek gekry het."

Die Nasionale Akademie-program is daarop gemik om te kyk na die holistiese ontwikkeling van 'n speler. Daar word gekyk na alle aspekte van die speler en nie net na krieketverwante vaardighede en taktiese bewustheid nie. Daar word ook gekyk na watter ander ondersteuning 'n speler nodig het om hom op 'n vlak te kry waar hy kan presteer volgens professionele en internasionale standaarde. Dit sluit in die lewenstyl van 'n speler, sy sosiale agtergrond, sy ekonomiese agtergrond en hoe hierdie elemente sy vermoë om op die hoogste vlak mee te ding, beïnvloed.

Simmonds wil sy tyd by die Akademie oordeelkundig benut. "Iets wat ek baie vinnig as 'n krieketspeler geleer het, is dat jy nie net op een aspek van krieket kan staatmaak nie. By die Akademie sal ek hoofsaaklik op boulwerk fokus, maar gaan ek ook hard werk aan die ander aspekte: kolfwerk, veldwerk en fiksheid. Ek dink as jy kan meeding met die topspelers in al vier kategorieë maak jy dit baie moeilik vir die keurders om jou uit die span weg te laat."