Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties Sport plaas kollig op watersportsoorte op Wêreldwaterdag
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 23/03/2017

​Die wêreld het hierdie week Wêreldwaterdag (22 Maart) gevier en Maties Sport het die kollig op van sy watersportkodes geplaas.

Die wêreld het hierdie week Wêreldwaterdag gevier en Maties Sport het die soeklig geplaas op watersportsoorte.

Op 'n positiewe noot het die Maties Waterpolo-span Maties Sport se naam hooggehou deur brons te wen by die SA Nasionale Akwatiese Kampioenskap wat van 18-21 Maart by die Coetzenburg-swembad gehou is.

Die onlangse Curriebeker-kompetisie se formaat het van 'n provinsiale na 'n klubkompetisie verander wat meer spanne die geleentheid gegee het om deel te neem. 

Op 'n meer verontrustende noot het etlike Maties-sportklubs genoem dat die huidige waterkrisis in die Wes-Kaap 'n negatiewe impak het op hul vermoë om te oefen en deel te neem.

"Weens die huidige droogte is ons dam omtrent leeg, wat ons voorbereiding baie moeilik maak. Ons riviere in die provinsie is almal leeg en ons kan dus nie soos gewoonlik op hulle roei nie," sê Evan Knight, voorsitter van die Maties Kanoklub. 

Die klub het onlangs sukses behaal met vyf Maties-roeiers in die Top 100 in die Dusi-kanomarathon – twee in die Top 50. 'n Maties-roeier het ook 7de in die non-stop Dusi geëindig.

Evan moedig mense aan om water te bespaar deur krane toe te maak terwyl hulle tandeborsel en om te bad eerder as om te stort.

Alexander Ham, Kommodoor van die Universiteit Stellenbosch Seiljagklub (USYC), verduidelik dat sekere waterliggame as gevolg van die waterskaarste net te vlak is vir hulle om te gebruik.

"Met die voortdurende krisis verminder dit die aantal waterliggame waarop ons kan seil."

Hy deel die volgende nuttige wenke: Plaas 'n emmer in die stort en gebruik die water om jou tuin nat te maak en gebruik minder elektrisiteit aangesien kragaanlegte duisende liter water gebruik om af te koel.

Die Maties Swemklub is tot nou nog teen die waterskaarste "beskerm", maar as die droogte aanhou is dit hoogs waarskynlik dat hul oefening in die buitenshuise fasiliteit daardeur geraak gaan word, sê afrigter Brett Wood.

Sy wenke sluit in dat jy jou seep verander na iets wat meer omgewingsvriendelik is sodat jy alle gryswater kan opvang en in die tuin kan gebruik, om 'n vol bottel in jou toiletbak te sit om water met elke spoel te bespaar, jou swembad toe te maak om waterverdamping te verminder en om watertenks te installeer.

Die klub is tans in ernstige voorbereidingmodus, met 25 swemmers wat in April aan die Wêreldkampioenskapproewe in Durban deelneem, terwyl 15 junior swemmers van 17-21 Maart aan die Junior Nasionale Kampioenskap deelgeneem het.

Lede van die Maties Onderwaterklub bring soveel tyd moontlik in die see deur, maar maak staat op oefening in die swembad vir al drie hul dissiplines (skuba, onderwaterhokkie en vryduik).

"'n Groot groep van ons klub is skubaduikers en bewaring is vir hulle baie belangrik," sê Joanne Jeffery.

Sy voeg die volgende by die voorgenoemde wenke: Maak enige lekkende pype reg of indien nodig, meld dit aan.

#savewater