Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hortoloog ontvang US-onderrigbeurs
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 23/03/2017

Dr Michael Schmeisser van die Departement Hortologie is die tweede dosent van die Fakulteit Agriwetenskappe wat omtrent net soveel jare wat  'n onderrigbeurs van die Universiteit Stellenbosch ontvang. Die beurs gee aan hom die vryheid om in die volgende drie jaar innoverende maniere uit te dink om sy eerste liefde, naamlik onderrig, ten beste te doen.

"Ek het baie vernuwende idees, maar gegewe mens se administratiewe verpligtinge en onderrig- en navorsingslading is daar nooit regtig die tyd om genoegsaam na te kan dink oor die ontwerp of die implementering daarvan nie," verduidelik dr Schmeisser waarin die waarde van die onderrigbeurs vir hom lê. "Die beurs maak dit vir my moontlik om tyd te spandeer aan die herontwerp van die kurrikulum van modules wat ek aanbied, en dit sal weer kan lei tot vernuwing in onderrig.

Dr Schmeisser is 'n voorstander van sogenaamde "outentieke leer". Hy wil onder meer kyk of betekenisvolle leer bevorder kan word as hy sy studente se vooraf kennis oor onderwerpe aan die begin van 'n module evalueer met sagteware soos C-mapping.

Deur te weet wat studente se kennisvlakke is, kan spesifieke intervensie indien nodig ingewerk word voordat daar met die oordra van nuwe inligting voortgegaan word. Dit sou studente met agterstande kon help om in te haal en sou ook kon verseker dat hulle nuwe inligting en konsepte deeglik in 'n bestaande kennisstruktuur kan integreer.

Dr Schmeisser wil ook ondersoek instel na die gebruik van e-portefeuljes wat 'n oorsig kan gee oor studente se werksaamhede en ervaringe tydens hul studiejare. Hy reken sulke elektroniese portefeuljes kan studente 'n kans gee om na te dink oor hulle studies, kan leer verdiep en kan as 'n soort CV dien waarmee hulle vir poste kan aansoek doen.

Dit is vir hom belangrik dat sy onderrigstyl en pedagogiek tot sinvolle leer bydra.

"Die sogenaamde 'geleerde-op-die-verhoog' tipe onderrigstyl bevorder volgens navorsing bloot nie sinvolle leer nie. Ja, studente slaag hulle eksamens, maar kan dikwels binne 'n kwessie van 'n paar weke niks onthou van wat hulle geleer het nie," merk hy op. "Betekenisvolle leer vind plaas wanneer nuwe kennis konseptueel geïntegreer word met bestaande kennis in 'n logiese, maklik herroepbare en, insgelyks belangrik, 'n oordraagbare manier."

Dié gewilde senior dosent in hortologie het aan die Universiteit Stellenbosch studeer voordat hy in 2007 tydens sy PhD-jare op kontrakbasis begin klas gee het. Hy het in 2010 'n voltydse pos in die Departement Hortologie gekry.

Wat beskou hy as sy suksesvolste onderrigvernuwing tot dusver? "Dis bes moontlik die inkorporering van 'n digitale storie-projek in my gewasproduksiemodule vir tweedejaars," reken dr Schmeisser. "Dit behels dat studente 'n virtuele kwekery moet skep waarin plantteling plaasvind. In die proses moet hulle 'n breë spektrum van teoretiese konsepte wat gedurende die module onderrig is, toegepas."

Die projek behels groepwerk, die gebruik van digitale media, asook kreatiewe ontwerp. Hierdie vaardighede word nie noodwendig met landboukundiges geassosieer nie, maar is vaardighede wat toenemend belangrik word in 'n wêreld wat kreatiewe denkers en probleemoplossers soek.

"Studente is oor die algemeen positief oor die projek, en dit bevorder waarskynlik, op 'n kreatiewe manier, dieper en meer sinvolle leer," voeg hy by.

Dr Schmeisser was onlangs ook betrokke met die herkurrikulering van die Plant- en Grondkunde-program van die Fakulteit AgriWetenskappe. Op grond van sy aanbevelings sal 'n nuwe module  aangebied word om eerstejaarstudente beter toe te rus vir die eise wat hulle universiteitstudies stel.