Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing oor diere-TB bevoordeel ook die mens se gesondheid
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 22/03/2017

​Tuberkulose (TB) hou ʼn globale bedreiging vir sowel mense as wilde diere in en navorsing wat by die Universiteit Stellenbosch (US) onderneem word oor die groep organismes wat TB by diere veroorsaak, het ten doel om waardevolle insig te verskaf in die biologiese meganismes wat TB by sowel wilde diere as mense veroorsaak.  

"Die bakterie wat byvoorbeeld TB by dassies veroorsaak, verskil van die een wat dit by vlakvarke veroorsaak," verduidelik prof Michele Miller, wìe se werk deel van die TB-verwante navorsing by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe uitmaak.  

"Die waarde van hierdie navorsingsgroep is dat ons ʼn beter begrip bied van hoe TB-organismes in verskillende gashere reageer," sê Miller, bekleër van die Nasionale Navorsingstigting se Navorsingsleerstoel in Dieretuberkulose aan die US.

"Ons ondersoek ook die rol van gasheer-genetika, immuunresponse en ander faktore wat tot vatbaarheid en die progressie tot siekte bydra, asook hoe hierdie groep bakterieë oor tyd heen en in verskillende spesies verander. TB hou nie net nuwe bedreigings vir Afrika se wild in nie, maar kan ook tussen diere en van diere na mense en terug versprei."  

Miller ondersteun ʼn "een gesondheid"-benadering tot die ondersoek na die diversiteit van mikobakteriese infeksies en gevolge van die siekte, veral by wilde diere. Sy verduidelik: "Jy kan nie net na een deel van die prentjie kyk betreffende die organismes wat TB veroorsaak nie. Mense, diere en die siektes wat hulle deel funksioneer in ʼn komplekse stelsel, wat beïnvloed word deur die omgewing waarin hulle leef. Ons moet na die volledige prentjie kyk, insluitend veranderinge in die patogene en gasheeraanpassings, om TB by mens en dier te voorkom en bestuur."

Miller en haar span doen tans navorsing oor verkillende wildspesies, onder meer in die Kruger Nasionale Park (KNP). Hulle ondersoek byvoorbeeld innoverende diagnostiese instrumente om vir TB-infeksie by wilde diere te toets. Genetika speel ʼn al hoe belangriker rol in hul navorsing. Geenuitdrukkingsontledings, wat uitgevoer kan word deur ʼn enkele bloedtoets te gebruik, word vir leeus, muishonde, vlakvarke, olifante, hiënas en wildehonde ontwikkel. Miller benadruk hoe minder wilde diere verdoof, gehanteer en aan spanning onderwerp word, hoe beter.

Bloedgebaseerde toetse kan ook immuunresponse by besmette diere bespeur. "Soortgelyk aan ʼn veltoets, sal ʼn besmette dier bloedselle hê wat reageer wanneer dit met proteïene van die TB-organismes geïnkubeer word. Immuunresponse kan dan in die bloedmonster of selfs in DNS van die monster gemeet word."

Die groep het nuwe biomerkers gevind wat besmette van onbesmette diere kan onderskei deur hierdie tegnieke te gebruik.

Hierdie soort navorsing bied baie uitdagings. "Dit is nie maklik om met wilde diere te werk nie en navorsing is gevaarlik en duur."

Volgens Miller is daar etlike redes hoekom navorsing oor TB by wilde diere relevant is, met inbegrip van die gesondheid van ekostelsels en die siklus van infeksie en herinfeksie wat voorkom. "Hoe beter ons die siekte verstaan, hoe beter sal die bestuurspraktyke wees wat ons in werking kan stel om die verspreiding van infeksie te beheer.

"Gegrond op ons onlangse werk lyk dit of die helfte van die leeus in die suidelike deel van die KNP besmet is, maar ons probeer nog die impak daarvan verstaan op spesies waaroor minder navorsing gedoen is. Ons ondersoek ook die rol wat hierdie ander diere (byvoorbeeld vlakvarke en bokke) as gashere van die bakterieë en in die omgewing speel."

In sommige gevalle het diere-TB plaaslike bevolkings, soos meerkatkolonies, uitgewis. Dit kan etlike gesondheids- en maatskaplik-ekonomiese gevolge hê, byvoorbeeld op die natuurlewe-toerismebedryf. "As die Kruger byvoorbeeld sy leeus of buffels verloor, wat sal die impak op ekotoerisme wees? Ons probeer ʼn groter begrip van hierdie soort scenario skep en probeer verhinder dat dit in ander gebiede voorkom.

"Daar bestaan nog aansienlike kennisgapings oor die epidemiologie en risikofaktore wat met diere-TB geassosieer word. Navorsing is van deurslaggewende belang ter verbetering van strategieë vir die voorkoming en bestuur van TB."