Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onthou die slagoffers van Esidimeni op Menseregtedag
Outeur: Prof Gubela Mji
Gepubliseer: 20/03/2017

Suid-Afrika vier op 21 Maart Menseregtedag om die opofferings wat in die stryd om demokrasie gemaak is, te gedenk. Langer as twee dekades ná demokratisering het die land ʼn skokkende menseregte-mislukking ervaar wat die lewe van ongeveer 100 van Suid-Afrika se kwesbaarste burgers geëis het. Prof Gubela Mji van die Sentrum vir Rehabilitasiestudies ontleed die menseregte-skendings wat tydens die Life Esidimeni-debakel plaasgevind het.

Die dood van minstens voormalige 94 Life Esidimeni-psigiatriese pasiënte druis nie net regstreeks in teen die Handves van Regte wat in ons Grondwet verskans is nie, maar skend die gees van ubuntu wat die Afrika-leefwyse kenmerk, asook etlike nasionale en internasionale wette, beleide en konvensies oor rehabilitasie en gestremdheid.

Die Sentrum vir Rehabilitasiestudies (SRS) van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch vat hande met ander aktiviste en kampvegters vir die regte van mense met gestremdhede in die betuiging van diepe hartseer en skok oor hierdie gebeure.  

Oudpres. Nelson Mandela en ander menseregte-aktiviste het benadruk ons moenie stilbly in die aangesig van lyding en boosheid nie, omdat dit vrugbare teelaarde skep vir sulke gebeure hom hulself te herhaal. Ons kan net op ʼn billike samelewing aanspraak maak wanneer ons demokrasie sensitiwiteit jeens die mees kwesbare groepe openbaar.

Die uitstorting van hartseer, skok en verontwaardiging in reaksie op hierdie tragedie ontlok vrae oor of diegene wat die beplanning vir die hervestiging van die pasiënte van Life Esidimeni-sentrums na gemeenskapsorg-NRO's gereël het, wyd genoeg geraadpleeg het en inklusief in die proses van organisatoriese verandering was.   

Menslike waardigheid kan nie volledig gewaardeer of gerespekteer word nie tensy individue, veral diegene in magsposies, met hul "menslikheid" in voeling is. Binne ʼn Afrika-kosmologie en -leefwyse is menslikheid in ubuntu vervat. Ubuntu is ʼn denkwyse ingevolge waarvan mense nie onafhanklike individue is wat selfverheffing nastreef nie (in hierdie geval deur geld te spaar deur Esidimeni-pasiënte aan hulself oor te laat in vyandige omgewings van NRO's wat klaarblyklik nie behoorlik geassesseer is nie), maar onderling afhanklike wesens wat deel van ʼn kollektief vorm. Hierdie onderling gekonnekteerde maatskaplike stelsel bepaal hoe ons by mekaar as ʼn gemeenskap aansluiting vind. Die konsep "ek is 'n mens deur ander mense" vervat die essensie van ubuntu en in die Esidimeni-geval is dít skynbaar heeltemal verontagsaam.

Die Esidimeni-pasiënte is herwaarts en derwaarts gestuur en ʼn ontstellende prentjie word deur die ondersoek van die gesondheidsombudsman, prof.  Malegapuru Makgoba, geskets. Volgens sy verslag is meer as 94 psigiatriese pasiënte tussen 23 Maart en 19 Desember 2016 in Gauteng dood, en nie 36 soos aanvanklik berig is nie. Hiervan het 75 in NRO-/hospitaalkomplekse en rehabilitasiesentrums gesterf. Die verslag lui voorts die totaal van 94 moet as ʼn voorlopige syfer beskou word. Chaos het die verskuiwingsproses gekenmerk. Die Gautengse geestesgesondheids-marathonprojek, soos dit bekend geword het, is "haastig" en op "chaotiese" wyse uitgevoer in ʼn omgewing met geen ontwikkelde tradisie of kultuur van ʼn gemeenskasgebaseerde, primêre geestessorg-diensraamwerk en -infrastruktuur nie. Growwe menseregteskendings het plaasgevind.

Dit lyk of die verpligtinge, inhoud en bedoeling van die Verenigde Nasies (VN) se Konvensie oor die Regte van Mense met Gestremdhede (die VN se Algemene Vergadering , 2006) en die Kontinentale Plan van Aksie vir die Dekade van Mense met Gestremdhede (wat albei deur Suid-Afrika onderteken is), verontagsaam is. Daar is kommerwekkende prima facie-getuienis dat die Grondwet, die Wet op Nasionale Gesondheid en die Wet op Geestesgesondheidsorg (2002) geskend en oortree is. In sommige gevalle is die regte van die pasiënte en hul gesinne heeltemal verontagsaam, insluitend die reg op menslike waardigheid; op lewe; op vryheid en veiligheid van die persoon; op privaatheid; op beskerming teen ʼn omgewing wat skadelik vir gesondheid of welsyn is; op toegang tot gesondheidsorgdienste van gehalte, voldoende kos en water; asook op wettige, redelike en prosedureel regverdige administratiewe aksies.

Daar is ʼn nou verband tussen die waargenome "meer of uitermatige" sterftes en die feit dat die relevante NRO's ʼn gebrek aan hulpbronne gehad het, toestande onvanpas was en daar ʼn gebrek aan bekwaamheid in sommige areas was. Dit sal ons altyd herinner hoe ver Suid-Afrika afgedwaal het van sy grondwetlike verpligting om sy burgers te beskerm.

Die Geïntegreerde Nasionale Gestremdheidstrategie (1997) herinner ons almal dat die enigste maatstaf van ons samelewing se respek vir menseregte, die vlak van sy volwassenheid en sy vrygewigheid van gees die status is wat sy kwesbaarste lede geniet – die gestremdes, die senior burgers en die kinders.

Die SRS is ook besorg om te verneem dat sommige van die individue by rehabilitasientrums gesterf het. Die Nasionale Rehabilitasiebeleid (2001) benadruk die noodsaak dat projekte deur beginsels en konsepte van gemeenskapsgebaseerde rehabilitasie (GGR) gegrondves moet word. GGR word in werking gestel deur die gesamentlike pogings van mense met gestremdhede self, hul gesinne, organisasies, gemeenskappe en relevante gesondheids-, onderwys-, beroeps-, maatskaplike en ander dienste wat deur die regering of nieregeringsorganisasies gelewer word. Die kern van GGR is die beskerming van die menseregte en waardigheid van mense met gestremdhede. Die beleid benadruk voorts dit is nie WAT ons doen nie, maar HOE ons dit doen. Hoe het 94 sterftes voorgekom by die rehabilitasiesentrums en ander eenhede waarheen pasiënte oorgeplaas is? Dít is die vraag wat hierdie instellings hulself moet afvra.

Die Primêre Gesondheidsorgbenadering (PGS) in Suid-Afrika staan gepaste, kontekstueel relevante, pasiëntgesentreerde sorg voor. Dit was nie die geval toe hierdie pasiënte oorgeplaas is nie. Die kwessie van kontekstualisering raak veral relevant in die proses van desentralisering van geestesgesondheidsinstellings. Wat by Esidimeni gebeur het, het die gebrek aan kontekstualisering in die proses van desentralisering gedemonstreer. Wanneer ons met mense werk, moet "geleende" modelle voortdurend aangepas word om seker te maak menslike waardigheid word nie gekompromitteer nie.

Die SRS en die FGGW steun die ombudsman se aanbeveling dat gepaste wetlike prosedures in werking gestel of administratief opgetree moet word teen die NRO's wat onwettig in bedryf was en waar Esidimeni-pasiënte gesterf het. Ons ondersteun voorts die gedagte dat die nasionale Departement van Gesondheid al 27 NRO's wat by hierdie projek betrokke was, in die lig van die verslag se bevindings moet ondersoek. Dié wat nie aan gesondheidsorgstandaarde voldoen nie, moet gesluit en hul lisensies ingevolge die wet teruggetrek word.

Die Esidimeni-pasiënte het beter verdien.  

 

Die personeel van die Sentrum vir Rehabilitasiestudies

Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Universiteit Stellenbosch