Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe MPhil in Kankerwetenskappe 'n eerste vir Afrika
Outeur: Carine Visagie
Gepubliseer: 17/03/2017

​Met die bekendstelling van die nuwe MPhil-graad in Kankerwetenskappe – aangebied deur die Afrika-Kankerinstituut (AKI) by die Departement van Globale Gesondheid – het die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs die eerste akademiese instelling in Afrika geword om 'n gestruktureerde kankwerwetenskapprogram van hierdie aard aan te bied.

In verskeie lande is kanker een van die hoofoorsake van sterftes. En wêreldwyd word daar verwag dat kankergevalle van 14.1 miljoen in 2012 tot 22.2 miljoen in 2030 gaan toeneem. Hierdie statistieke dui op 'n reuse-epidemie wat 'n gekoördineerde reaksie vereis – een wat gapings in navorsing doeltreffend identifiseer en wat daarop toegespits is om volhoubare kankernavorsingsprogramme op die been te bring.

Ons kennis van kanker het die laaste paar dekades dramaties toegeneem. Tog word daar nie in akedemiese kurrikula in Afrika genoeg klem gelê op kankerinligting nie, sê prof Vikash Sewram, direkteur van die AKI.

Die AKI is in 2013 gestig om die universiteit se kanker- en kankerverwante-navorsingsaktiwiteite te versoen, met die doel om 'n kritiese massa wetenskaplikes, klinici, nagraadse studente en genote te ontwikkel. Uiteindelik sal hierdie kenners help om die kankernavorsingsagenda in Afrika te bevorder. Die nuwe MPhil-program (Kankerwetenskappe), wat in Januarie 2017 bekendgestel is, is om hierdie rede saamgestel.

Dié interdissiplinêre program, wat nagraadse opleiding aan toepaslik gekwalifiseerde gesondheidspersoneel bied, word voltyds oor 'n minimum tydperk van 18 maande aangebied. Sewe studente – drie van Suid-Afrika en vier van ander Afrika-lande – vorm tans deel van die program. Vier is klinici met 'n agtergrond in onkologie, een is 'n geregistreerde verpleegster, en die ander studente het 'n basiese wetenskapagtergrond.

Tydens die eerste akademiese jaar word daar van studente verwag om hul kennis van kankerbiologie en tumorfisiologie te verbreed. Ander onderwerpe sluit in: die beplanning van kankernavorsingstudies, die kies van wetenskaplike metodes, die rol van infeksies in kankerrisiko in Afrika, voeding se rol in kankeroorlewing, die beginsels van chemoterapie en die rol wat die omgewing in gemeenskapsgesondheid speel.

Studente word ook aan biostatistiek vir die analise van kankerdata blootgestel, en moet in die tweede semester van hul eerste akademiese jaar 'n navorsingsprojek beplan. Internasionale studente word aangemoedig om 'n onderwerp te kies wat op hul lande van herkoms van toepassing is.

Toelatingsvereistes
Indien jy een van die volgende kwalifikasies het, kan jy vir die 2018-program aansoek doen:

  • 'n MB,ChB of soortgelyke graad.
  • 'n Vier-jaar professionele Baccalaureus-graad in 'n gesondheidsverwante veld.
  • 'n BSc Honneurs-graad in die Mediese Wetenskappe deur die Universiteit Stellenbosch of 'n ander herkende universiteit, of 'n soortgelyke kwalifikasie wat deur die Senaat goedgekeur is.

Kontak gerus vir prof Vikash Sewram vir meer inligting: vsewram@sun.ac.za.

Caption: Proff Vikash Sewram (Direkteur: AKI), Jimmy Volmink (Dekaan: FGGW) en Usuf Chikte (Hoof: Departement Globale Gesondheid) saam met die eerste groep genote van die MPhil-program in Kankerwetenskappe. Lauren Philips (MPhil program-koordineerder) is agter.