Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gradedag eindig op hoë noot vir Fakulteit Regsgeleerdheid se klas van 2016
Outeur: Alumni-betrekkinge / Alumni Relations
Gepubliseer: 16/03/2017

Die 2016-klas van die Fakulteit Regsgeleerdheid het Donderdag hul gradeplegtigheid op 'n hoë noot afgesluit met 'n prosessie vanaf die Coetzenburg-sentrum - 'n eerste vir die Universiteit.

Prof Sonia Human, dekaan van die fakulteit, het die groep van sowat 100, insluitend fakulteit personeel, vriende en familie, na afloop van hul gradeplegtigheid in 'n prosessie gelei deur die Laan, Bosmanstraat en Victoriastraat. Die groep is vergesel deur tromspelers van die Hoërskool Stellenbosch. Die prosessie het uiteindelik by die Ou Hoofgebou opgeëindig waar daar behoorlik feesgevier is.

"Wat 'n wonderlike dag van feesvieringe, glimlagte en prestasies," het prof Human aan die graduandi en hul familie gesê. "Ons het vandag 'n nuwe tradisie begin, en hoop om in die toekoms daarmee voort te gaan," het sy bygevoeg.

Adriaan Louw, wat self Donderdag sy LLB-graad ontvang het, het gesê: "Geen oorwinning in die lewe behoort sonder feesvieringe gepaard te gaan nie. En vandag het ons beslis rede om fees te vier."

Vandeesweek se gradeplegtighede lewer wéér besonderse akademiese rekords vir die US op. Tesame met die Desember 2016 gradeplegtighede (die twee plegtighede word saam gereken as die 2016 akademiese jaar) word die meeste kwalifikasies ooit toegeken en weer is dit ook die meeste doktorsgrade wat in een akademiese jaar toegeken word. Altesaam 2922 grade word hierdie week toegeken wat beteken dat daar altesaam 8339 grade vir die 2016 akademiese jaar toegeken is (7905 vir 2015).