Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veelsydige Mouton beloon vir deurlopende uitnemendheid
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 06/03/2017

​Altesame 12 jaar van "volgehoue voortreflike diens" aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het die gesogte Kanselierstoekenning aan mnr Eben Mouton, Direkteur: Besigheidsbestuur, besorg.

"Mnr Mouton het die Universiteit Stellenbosch (US) sedert 2004 met onderskeiding gedien. As ʼn lid van die Dekaan se Bestuurspan het sy uitnemende bydraes oor diverse gebiede heen gestrek, met inbegrip van strategiese beplanning, finansiële bestuur en menslikehulpbronontwikkeling, het prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW gesê. Die toekenning is tydens verlede jaar se gradeplegtigheid oorhandig.

Mouton is baie dankbaar vir die toekenning. "Die Kanselierstoekenning verleen erkenning aan werknemers wie se loopbane van volhoubare uitnemendheid getuig en binne hierdie konteks is dit ʼn groot eer vir my. Ofskoon ek die toekenning ontvang het, is dit deur talle van my kollegas moontlik gemaak," het Mouton gesê.

Volgens Volmink het Mouton "onder meer ʼn deurslaggewende rol in die totstandbrenging van ʼn fakulteitsbestuursforum vir die Universiteit gespeel en is hy deur die Nasionale Dekanekomitee aangewys as lid van ʼn span om die landwye gebruik van die kliniese toelaag vir gesondheidswetenskappe te ondersoek. Hy het voorts in samewerking met die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool ʼn uitvoerende leierskapprogram vir senior akademici in die Fakulteit ontwerp. Hy het sy deel vir die oordrag van vaardighede gedoen as lektor in algemene bestuur vir die Fakulteit se nagraadse diplomastudente. Sy omvattende invloed op al die US se kernfunksies het hom sedert 2011 jaarliks Rektorstoekennings besorg".

"My werketiek is op my Christelike waardes gegrond, wat behels om ander te behandel ooreenkomstig die manier waarop jy behandel wil word. Eerlikheid en respek vir ander is ook waardes wat ek nastreef," het Mouton gesê.

Sedert sy aanstelling in die Dekaan se Bestuurspan (DBS) in 2004 het Mouton stelsels in werking gestel wat die prestasie van akademiese en sake-eenhede by die Fakulteit naspoor. Hierdie stelsel het hom in staat gestel om die jaarlikse begrotingstoewysings op grond van prestasie toe te ken. Hy het onlangs ʼn Fakulteitbestuursinligting-beheerpaneel ontwikkel wat sake-inligting verskaf en DBS- en ander bestuurspersoneellede kan help om hul aktiwiteite ooreenkomstig die Fakulteit en Universiteit se strategiese planne te rig.

In die aanbeveling vir sy Kanselierstoekenning is Mouton vir sy oordeelkundige bestuur van die Fakulteit se finansies geprys. "Met ʼn netto inkomste van sowat R700 miljoen en etlike duisende kostesentrums, word behoorlike finansiële beheermaatreëls by die Fakulteit vereis. Mouton speel ʼn sleutelrol om nakoming van finansiële beleid, behoorlike begroting en gedissiplineerde besteding te verseker," lui die aanbeveling.

Mouton was aan die spits van die ontwikkeling van ʼn pasgemaakte Leierskapsontwikkelingsprogram vir die FGGW wat op nuwe bestuurders en ander personeellede met leierskappotensiaal gemik is. Hierdie program verskaf opleiding in onder meer diversiteits- en kulturele kwessies, leierskap en mensebestuur aan deelnemers.

Kort na sy aanstelling het Mouton al sy staal gewys met die herstruktureringsproses by die Fakulteit. Hy het die bestuurs- en finansiële struktuur omvorm en ʼn besparing van R5,4 miljoen, sonder enige werkverliese, help bewerkstellig. 

"Dit was ʼn baie uitdagende tyd, maar ook ʼn geleentheid vir die Fakulteit om vir nuwe uitdagings in die gesondheidswetenskappe gereed te maak," onthou Mouton.

Hy het ʼn deurslaggewende rol gespeel om die Fakulteit se onderrigplatforms te vergroot om groter getalle studente te huisves. Hy was die projekbestuurder van die bou van die Landelike Kliniese Skool in Worcester, wat die Fakulteit se kliniese opleidingsplatform in landelike gebiede aansienlik uitgebrei het. Hy het onlangs die bou van twee nuwe lesingsale gekoördineer, asook die bou van drie nuwe koshuise op die Tygerberg-kampus gefasiliteer (waarvan twee reeds voltooi is), om voorsiening vir die stygende studentegetalle te maak en verblyf te verskaf aan studente uit veral die aangewese groepe wat buite die Wes-Kaap woon.

Mouton was ook die dryfveer agter die installering van ʼn virtuelelessenaar-infrastruktuurstelsel bekend as BYOD (bring jou eie toestel), wat studente in staat stel om toetse op hul eie elektroniese toestelle te skryf. Sodoende kan meer eksamens per dag afgelê word en het die vraag na tegniese steun afneem.

Om die Fakulteit se navorsingskapasiteit uit te brei, werk Mouton doelgerig om die 40 jaar oue Fisan-gebou, waar die meeste van die navorsing gedoen word, te vervang. ʼn Moderne, doelgemaakte navorsingsfasiliteit sal die Fakulteit se navorsingsuitset verhoog en het die potensiaal om sy inkomste vir die finansiering van navorsing te verhoog.

"My visie is dat die Fakulteit in die afsienbare toekoms ʼn navorsingsfasiliteit van wêreldgehalte bou wat sy navorsingskapasiteit sal verhoog," sê Mouton.

Die FGGW voltooi tans ʼn opknapping ter waarde van R350 miljoen, wat deur ʼn fasiliteite-oudit deur Mouton geïnisieer is. Hy hou die afgelope jare oor die projek toesig om te verseker dat dit binne die begroting en tydsraamwerk voltooi word, asook dat die Fakulteit se akademiese aktiwiteite sonder noemenswaardige ontwrigting kan voortgaan. "Dit verg versigtige projekbestuur deur Mouton en voortgesette doeltreffende kommunikasie met veelvuldige rolspelers."