Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Talentvolle studente baat by R2.3m finansiële hupstoot
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 22/02/2017
Vir duisende studente is 'n gebrek aan befondsing een van die grootste struikelblokke tot sukses. Nou, danksy 'n finansiële hupstoot van R2.3 miljoen van die Bank Sektor Onderwys- en Opleidingsowerheid (BANKSETA), is die deure van hoër onderwys wyd oop vir 20 talentvolle studente in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW).

BANKSETA is 'n statutêre liggaam gevestig deur die Wet op Vaardigheidsontwikkeling van 1998 om sy belanghebbendes in staat te stel om die nasionale en globale posisie van die bank- en mikrofinansiering sektor te bevorder. Soos gelei deur sy mandaat, is BANKSETA 'n agent van transformasie wat gelyke indiensneming en breëbasis swart ekonomiese bemagtiging deur vaardigheidsontwikkeling bevorder.

BANKSETA het 'n toekenning van R2.3 miljoen gemaak aan die EBW Fakulteit se Projek Zero-inisiatief wat daarop gemik is om die werklike koste van studie aan die US vir die beursontvangers tot nul te veminder.

Projek Zero is in 2015 van stapel gestuur, met die eerste groep ontvangers wat hul voorgraadse studies in Januarie 2016 begin het. Hierdie beurse word aangebied op grond van akademiese meriete en finansiële behoefte en is slegs beskikbaar vir bruin, swart en Indiër-studente. Studente moet Suid-Afrikaanse burgers wees.

"Die doel van Projek Zero-beurse is om te verseker dat studente - wat almal aan die akademiese vereistes vir toelating tot hul gekose kursusse voldoen - volle finansiële ondersteuning oor die duur van hul voorgraadse studies kry. Deur beurse aan hierdie talentvolle studente te bied, verseker die Fakulteit dat hulle die beste studente lok wat weer daartoe lei dat die Universiteit sy verbintenis tot uitnemendheid gestand doen," sê prof Ronel du Preez, die Fakulteit se Visedekaan: Onderrig en Leer.

Du Preez sê voorts dat hulle ook seker maak dat die beursontvangers ondersteuning kry om sukses te verseker. "Die akademiese vordering van die Projek Zero-kandidate word baie noukeurig gemonitor en studente word ondersteun met ingrypings waar nodig om te verseker dat hulle hul studies suksesvol voltooi."

Volgens mnr Similo Dlamini, Bestuurder van Werkgeïntegreerde Leer by BANKSETA, help hierdie toekenning hulle om hul mandaat te vervul. Hulle mandaat is onder meer om vaardigheidsontwikkeling en transformasie in die breë bank- en mikrofinansiering sektor te ondersteun, en dan ook die ontwikkeling van mense deur middel van vennootskappe, verligting van werkloosheid wat tot verandering sal lei en sodoende 'n blinker toekoms sal skep. 

  • Foto: BANKSETA span saam met die Universiteit Stellenbosch: (van l-r) Cheryl Benadie (US Skenker-Betrekkinge Bestuurder), Ilze Gelderblom (Koördineerder: Studentesake, EBW), Similo Dlamini (Bestuurder: Werkgeïntegreerde Leer, BANKSETA), Stephny-Aan Roché (Projek Zero-beursontvanger), Levern Fortuin (Projek Zero-beursontvanger), Jill Sloan (US Projekskrywer) en MJ Brooks (Direkteur: Fakulteitsbestuur, EBW) (Fotograaf: Hennie Rudman)

Op die web: