Die
Universiteit Stellenbosch (US) veroordeel dieremishandeling in die sterkste
moontlike terme en sal nie huiwer om op te tree teen enigiemand wat hulself in
hierdie verband skuldig maak nie. Dit is die reaksie van die US-bestuur in die
lig van die mishandeling van ʼn hoender by ʼn Universiteitskoshuis op Saterdag 18
Februarie 2017.
ʼn Ondersoek is reeds geloods na die gebeure wat plaasgevind het tydens
die jaarlikse “Hoenderdag” van die Helshoogte-koshuis op die
Stellenbosch-kampus.
Die koshuis bied die jaarlikse Hoenderdag aan as ʼn fees van musiek,
dans en kosstalletjies. Die naam Hoenderdag is afkomstig van die koshuis se
embleem wat ʼn hoender uitbeeld – ʼn simbool wat inwoners respekteer en koester.
Hoenders vorm egter nie deel van die dag se gebeure nie.
Volgens
ʼn voorlopige verslag van die Universiteit se ondersoekbeampte kan daar bevestig
word dat die individu wat op grond van beskikbare beeldmateriaal as die
skuldige geïdentifiseer is, nie ʼn inwoner van Helshoogte-koshuis, ʼn US-student
of ʼn alumnus van die Universiteit is nie. Dit
moet egter
nie gesien word as ʼn regverdiging van die voorval deur die Universiteit, die
organiseerders van die byeenkoms of die Helshoogte Huiskomitee nie. Dit dien wel
as bevestiging dat die voorval nie deel van die amptelike program en
aktiwiteite van die dag was nie en dus nie geïnisieer of beplan was deur die
organiseerders nie. Ongeag die oorsprong daarvan kan sulke optrede nie goedgepraat
of geïgnoreer word nie en ʼn omvattende ondersoek na die voorval is onderweg.
Die
geleentheid was oop vir die publiek en sekuriteit was teenwoordig by die ingange
en uitgange. Dit is tans onduidelik hoe die individu dit reggekry het om ʼn hoender
op die perseel te bring.
ʼn Besorgde student het die voorval aan die
koshuis se Huiskomitee gerapporteer wat dadelik die skuldige party of partye
probeer opspoor het, maar sonder sukses. Daar word aanvaar dat die persoon die
perseel intussen verlaat het. Hulle het ook dadelik na die voorval stappe
geneem om enige verdere mishandeling te voorkom. Die hoender word tans versorg.
Weens die erns van die saak het die Huiskomitee nie net die saak aan
die Universiteit rapporteer nie, maar ook aan die Dierebeskermingsvereniging in
Stellenbosch, wat ook die voorval ondersoek.
Die Helshoogte Huiskomitee het in ʼn verklaring die
versekering gegee dat die doel van die geleentheid hoegenaamd nie is om diere
te mishandel nie en dat diere as ʼn reël nie deel van die aktiwiteite vorm nie. In
die verklaring gee die koshuis toe dat die voorval op hul perseel plaasgevind
het, maar dat sulke gedrag nie deur enige lid van die koshuis goedgepraat word
nie. “Ons veroordeel
hierdie gedrag ten sterkste, en dit is nie die tipe gedrag wat ons by die
koshuis aanmoedig nie. Die persoon wat van die mishandeling verdink word, is van
dieremishandeling aangekla en ons sal met die owerhede saamwerk om te verseker
dat dissiplinêre optrede geneem word.”
Die
Huiskomitee het ook bevestig dat die hoender nie aan die koshuis behoort nie en
dat dit sonder die medewete of toestemming van die huiskomitee op die perseel
gebring is.
Die ondersoek
duur voort, maar aanduidings is tans dat dit ʼn geïsoleerde insident is. Die
Universiteit het nog nie vantevore enige klagtes oor die dag of aktiwiteite wat
gedurende die geleentheid plaasgevind het, ontvang nie.