Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groot belangstelling in Fakulteit Opvoedkunde se nuwe honneursprogramme
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 15/02/2017

Meer as 140 studente het vir drie nuwe BEd-honneursprogramme, aangebied deur die Fakulteit Opvoedkunde by die Universiteit Stellenbosch (US), ingeskryf.

Die nuwe Minimum vereistes vir Onderwyseropleidingkwalifikasies vereis dat alle onderwysopleidingprogramme geherkurrikuleer moet word en die Fakulteit het hierdie geleentheid gebruik om al sy honneursprogramme opnuut te deurdink en te herontwerp.

Die Fakulteit het in Januarie 2017 drie nuwe BEd-honneursprogramme – in Opvoedkundige ondersteuning, Taalopleiding, en Onderwysontwikkeling en Demokrasie – bekendgestel.

Prof Magda Fourie-Malherbe, koördineerder van die honneurs-herkurrikuleringproses, beskryf dit as 'n "historiese gebeurtenis" aangesien al die nuwe programme deur 'n gemengdeleerbenadering aangebied word.

Die gemengdeleermodus sluit persoonlike kontaksessies op kampus, telematiese uitsendings na bestaande satellietlokale, sowel as elektroniese leer deur middel van SUNlearn in. SUNlearn is die US se leerbestuurstelsel. Hierdie stelsel maak dit vir studente moontlik om saam met medestudente en dosente aan aanlynbesprekingsgroepe deel te neem, toegang tot 'n verskeidenheid inhoud soos poduitsendings en video's te kry, aan e-assessering deel te neem, opdragte elektronies in te dien, ens.

Telematiese uitsendings vind op Vrydagmiddae tussen 16:00 en 20:00 plaas en studente kan óf na die naaste leersentrum reis – daar is sentrums in al die provinsies asook Namibië – of vanaf die huis inskakel om die regstreekse stroming te volg. Hulle het ook die opsie om 'n DVD van die uitsending te bestel.

Studente sal twee weke se kontaksessies tydens skoolvakansies bywoon. Dit beteken dat mense van enige plek in Suid-Afrika, hetsy hulle pas gegradueer het of reeds binne die onderwysstelsel werk, vir hierdie programme kan registreer.

"Ons is baie opgewonde oor die nuwe manier waarop ons hierdie programme aanbied. Ons hoop dat hierdie manier van leer en onderrig studente wat ver van Stellenbosch af bly, in staat sal stel om toegang tot die programme te kry en dat ons hiermee 'n innoverende benadering tot leer en onderrig daarstel," sê prof Maureen Robinson, Dekaan van die Fakulteit.

Altesaam 143 studente het vir die drie honneursprogramme ingeskryf.

"Ons het meer aansoeke ontvang as wat ons verwag het en ons is baie in ons skik met die belangstelling in ons nuwe programme," sê prof Fourie-Malherbe.

"Die mate van belangstelling in hierdie programme is 'n aanduiding dat hulle aantreklike opsies vir studente is wat voltyds wil studeer sowel as studente wat reeds werksaam is. Dit dui ook op 'n behoefte aan geleenthede waardeur studente hul kundigheid in onderwys kan konsolideer en verdiep."

Die gemengdeleerbenadering bied geleenthede sowel as uitdagings.

"Hierdie benadering sluit minder aangesig-tot-aangesig-interaksie in en sal van studente vereis om baie meer onafhanklik te werk. Alhoewel daar minder kontaktyd is, sal aktiwiteite op SUNLearn hulle die geleentheid gee om deur middel van kletssessies, besprekingsforums en ander aanlynaktiwiteite met mekaar te kommunikeer. Dit word moontlik gemaak deur die innoverende gebruik van voorpunttegnologieë."

Die nuwe honneursprogramme sluit almal 'n navorsingskomponent van 25% in, wat studente die geleentheid bied om by navorsingsprojekte betrokke te raak en hul navorsingsvaardighede te ontwikkel.

Prof Robinson het studente aangemoedig om onmiddellik moontlike navorsingsvrae te begin formuleer.

"Ons doelwit is om 'n gemeenskap van vraestellers te skep, wat in staat is om idees te verken en nuwe insigte te ontwikkel. Ons hoop jy sal ons help om hierdie doelwit te bereik," het sy bygevoeg.

Die Fakulteit beplan om die BEd Hons (Grondslagfase-onderwys) in 2018 te implementeer en is ook besig met die ontwikkeling van 'n nuwe program in Kurrikulumondersoek.

Studente kan óf voltyds (een jaar) of deeltyds (twee jaar) vir die program van hul keuse registreer.

Vir algemene navrae, kontak Melissa van der Vyver by melissavdv@sun.ac.za of 021 808 2122.