Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Coetzenburg-atletiekbaan gesluit vir opgraderings
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 15/02/2017

Die Coetzenburg-atletiekbaan, 'n voorkeurstadion vir plaaslike en nasionale kompetisies en die oefen-venue vir baie internasionale atlete, sal in 2017 uitgebreide opgradering ondergaan.

Die atletiekbaan is amper 10 jaar oud en sekere gedeeltes het in so 'n mate agteruitgegaan dat dit nie meer vir oefening of kompetisies gebruik kan word nie.  Die fokus van fase een sal die kleedkamers, klubhuis, kantore en baan wees, wat teen 'n koste van R40 miljoen opgeknap gaan word.

Die verwagte voltooiingdatum is Desember 2017 en geen byeenkomste sal vanaf Februarie 2017 in die stadion aangebied word nie.

"Gegewe die feit dat Coetzenburg 'n voorkeurvenue vir Varsity Atletiek is sowel as een van die beskikbare kus-venues vir die aanbied van die Suid-Afrikaanse senior kampioenskap, dink ons atletiek in die streek sowel as nasionaal sal by hierdie opgradering baat," het Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, gesê.

"Coetzenburg is 'n voorkeurbestemming vir baie internasionale atlete in hul voorbereiding vir wêreldkampioenskap- en Statebondkompetitisies en die Olimpiese Spele. Ons venue word ook vir praktiese sessies deur US Sportwetenskap-studente, studente-atletiekkompetisies, skoleatletiekkompetisies, en die proewe vir baie van ons provinsiale spanne gebruik."

Coetzenburg was weereens 'n voorkeurvenue vir baie internasionale sportmanne en -vroue hierdie somer, met meer as 150 internasionale atlete en afrigters wat in Desember en Januarie na Stellenbosch gereis het as deel van hul voorseisoenvoorbereiding vir die Wêreldatletiekkampioenskap later vanjaar.

Van die amptelike oefengroepe wat hier was, sluit in Nederland, Swede, Frankryk, Duitsland en Groot Brittanje. Die Nederlandse atleet en Olimpiese silwermedaljewenner in die 200m, Dafne Schippers, Amerikaanse Olimpiese gouemedaljewenner in die driesprong, Christian Taylor, en die Britse Paralimpiese atleet Richard Whitehead is van die hoëprofielatlete wat by Coetzenburg geoefen het.

"Maties Atletiek het 'n trotse geskiedenis en ons wil net die beste geriewe aan ons student-atlete, ons gemeenskap, ons nasionale atlete en ons internasionale besoekers bied," het Groenewald bygevoeg.