Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hawe-, vervoer- en logistieke sektore in SA sal by ooreenkoms baat
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 15/02/2017

'n Memorandum van ooreenkoms tussen die Nederlandse onderrig-, opleiding-, navorsing- en konsultasie-organisasie STC-Groep en die Universiteit Stellenbosch (US) sal die hawe-, vervoer- en logistieke sektor in Suid-Afrika tot voordeel strek.

Die ooreenkoms is vroeg in Februarie deur mnr Albert Bos van STC en prof Eugene Cloete, Vise-rektor: Navorsing en Innovasie van die US, onderteken.

Die doel van die ooreenkoms is die ontwikkeling en implementering van 'n Akademie in Hawe, Vervoer en Logistiek.

The STC-Groep is 'n wêreldwye opvoedkundige en navorsingsinstelling wat op die verskeping-, logistieke, vervoer- en verwerkingsbedryf fokus. Die STC-Groep bied ook besigheidskursusse en opleiding aan professionele mense. Die organisasie se hoofkantoor is in Rotterdam gesetel.

Die voorgestelde Akademie sal 'n wye reeks opvoedkundige programme, tegniese bystand en navorsing vir die hawe-, vervoer- en logistieke sektor bied. Die aanvanklike benadering van die projek sal die ontwikkeling van programme vir die voorgenoemde sektore wees, en gesamentlike sertifikate sal uitgereik word.

Die langtermyndoelwit van die samewerkingsooreenkoms is die versterking van opvoedkundige programme, tegniese bystand en navorsingsaktiwiteite wat gesamentlik deur die US en STC voorsien sal word. Nog 'n doelwit is om Suid-Afrika en die streek met hooggekwalifiseerde personeel op bestuursvlak te voorsien en om Suid-Afrikaans-Nederlandse kommersiële aktiwiteite in die maritieme/vervoersektor in Suid-Afrika en die streek te ondersteun.

Volgens Anneke de Bod, lektor in Logistieke Bestuur by US, is daar 'n definitiewe geleentheid in Suid-Afrika om maritieme en hawe-kundigheid op middel- en topbestuursvlak te ontwikkel.

"Benewens 'n sterk fokus op maritieme bestuursontwikkeling deur kort kursusse, hoop ons dat hierdie ooreenkoms verder sal bydra tot ons voor- en nagraadse kurrikulums by die US en nuwe navorsingsgeleenthede sal skep," het sy bygevoeg.