Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groter betrokkenheid van fakulteite bespreek
Outeur: Joanne Williams
Gepubliseer: 14/02/2017

Hoewel die Universiteit Stellenbosch (US) se Landelike Kliniese Skool in Worcester fokus op voorgraadse programme in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, is daar ook geleenthede vir ander fakulteite om betrokke te raak by die plaaslike gemeenskappe daar.

Van hierdie geleenthede is bespreek by die US se Afdeling Sosiale Impak se onlangse werksessie oor interprofessionele samewerkingsgeleenthede tussen fakulteite en die Landelike Kliniese Skool (LKS).

Volgens dr Antoinette Smith-Tolken, Hoof van die Afdeling Sosiale Impak, was die doel om ʼn praktykgemeenskap tot stand te bring ten einde samewerking tussen fakulteite te fasiliteer. Samewerking tussen fakulteite is ʼn kernbeginsel van sosiale impak, soos wat in die Strategiese Plan vir Sosiale Impak ook uiteengesit is.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het verteenwoordigers van nege fakulteite verwelkom. Hy het gesê die byeenkoms bied ʼn geleentheid om inligting uit te ruil en sodoende bestaande werk te verdiep en te versterk en vars inspirasie vir nuwe samewerkingsgebiede te vind.

"Die samelewing word gemeet aan die hand van hoe ons na ons mees kwesbares omsien. Universiteite is vir baie ʼn simbool van hoop, en die US kan ʼn impak op die samelewing hê, en die samelewing op ons," het hy gesê.

Die LKS funksioneer onder die sambreel van Ukwanda, wat die visie het om ʼn verskil in landelike gesondheidsorg te maak deur betrokke, selfversekerde en kundige gesondheidsorgwerkers op te lewer wat pasiënt-gerig en met ʼn sosiale bewussyn werk.

Dit bied koppeling met die Worcester-gemeenskap, en daar is ʼn lang samewerkingsgeskiedenis met plaaslike belanghebbendes. Dit sluit in studenteplasings en -projekte by etlike gesondheidsdienste, onderwysinstansies, nieregeringsorganisasies en gemeenskapsterreine.

Vyf van die US se voorgraadse programme vir gesondheidsberoepe, naamlik Geneeskunde, Arbeidsterapie, Menslike Voeding, Fisioterapie en Spraak-, Taal- en Gehoorterapie, is betrokke by die LKS.

Van die moontlike geleenthede wat tydens die werksessie geïdentifiseer is, sluit in die betrokkenheid van die fakulteite Natuurwetenskappe en Opvoedkunde by wiskunde- en wetenskapsteun by skole. AgriWetenskappe kan betrokke raak by gemeenskapstuine ten einde by te dra tot voedselsekerheid, terwyl Ekonomiese en Bestuurswetenskappe opleiding in rekeningkunde kan bied vir entrepreneurs.

Kapasiteitsbou deur Lettere en Sosiale Wetenskappe en Opvoedkunde, asook regsdienste deur Regsgeleerdheid was onder die voorstelle vir moontlike geleenthede.

Daarby kan Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, en Opvoedkunde ook betrokke wees by moontlikhede vir uitgebreide ontwikkeling, soos vroeëkind-ontwikkeling en navorsing oor fetale alkoholsindroom op ʼn multisektorvlak.

Die LKS bied 'n jaarlikse landelike navorsingsdag aan, wat vanjaar op 18 Mei sal plaasvind. 'n Jaarlikse gemeenskapsvennootgeleentheid, waar vennote moontlikhede vir samewerking aan die US kan uitwys, word ook op 4 Oktober gehou.

Fakulteite het tans die volgende geleenthede op die Worcesterplatform:

GeleentheidBetrokke fakulteite
Wiskunde- en wetenskapsteun by skoleNatuurwetenskappe, Opvoedkunde
Gemeenskapstuine/voedselsekerheidAgriWetenskappe
Opleiding van entrepreneurs in rekeningkundeEkonomiese en Bestuurswetenskappe
Steun (onder meer met maatskaplike werk, sielkunde en drama) en vermoëbou by skoleLettere en Sosiale Wetenskappe, Opvoedkunde
RegsdiensteRegsgeleerdheid
Moontlikhede vir uitgebreide ontwikkeling, soos vroeëkindontwikkeling en eerste 1 000 daeGeneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Opvoedkunde
Navorsing oor fetale alkoholsindroom op 'n multisektorvlakGeneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Opvoedkunde


Geleenthede besonderhede van spesifieke vennote kan hier besigtig word.

Die fakulteitsverteenwoordigers wat die werksessie bygewoon het, het die behoefte aan hierdie soort fasilitering, koördinering van samewerkingsgeleenthede en verhoudingsbou beklemtoon. Die Afdeling Sosiale Impak ontwikkel tans ʼn elektroniese platform vir sosiale impak waar samewerking- en vennootskapsgeleenthede aangebied en benut sal kan word.

Na aanleiding van die werksessie word ʼn besoek aan die LKS in Worcester beplan, sowel as die voortsetting van gesprekke wat by die werksessie begin het, waaronder die moontlike vestiging van ʼn plaaslike samewerkingsnaaf op Stellenbosch, en die ontwikkeling van ʼn voetspoor op Saldanha wat ook as ʼn latere samewerkingsnaaf verken kan word.

Vir navrae, kontak asseblief die Afdeling Sosiale Impak by 021 808 3645.