Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tygerberg se nuutste ‘Abe’ oorweldig deur VK-toer
Outeur: Nicholas Wayne
Gepubliseer: 09/02/2017

Verlede jaar is die prestigeryke Abe Bailey-studiebeurs aan Nick Wayne, ʼn vyfdejaar-mediese student en voormalige voorsitter van die Tygerberg Studenteraad (TSR), toegeken. Dit gee aan uitgesoekte studente die geleentheid om die Verenigde Koninkryk (VK) te besoek. Die doel van hierdie reisbeurs is om jong Suid-Afrikaners se uitkyk op die lewe te verbreed deur uitmuntende studente met uitsonderlike leierseienskappe en ʼn sterk diensetiek te bemagtig. Wayne vertel meer oor sy ervaring:

In Julie 2016 is ek gekies vir die Abe Bailey-studiebeurs, wat ʼn reisbeurs na die VK insluit. Die beurs is in die 1950's ingestel en is sedertdien aan meer as 800 invloedryke alumni op sake-, politieke en akademiese gebied toegeken. Die beurs word soos volg beskryf:

"Beurse word toegeken aan kandidate wat akademies sterk is, uitsonderlike leierseienskappe het en diens lewer, nie net wat studentekwessies betref nie, maar ook binne ʼn wyer maatskaplike konteks. Hulle moet ook as deel van ʼn uitgelese en hoogs bekwame groep kan funksioneer".

Die keuringsproses is straf: 40 aansoeke is net van US-studente ontvang en daar was honderde geskikte en indrukwekkende aansoeke van oor die land heen. Maar net 17 studente is gekies – een van elke universiteit in die land. Helene-Mari van der Westhuizen was die laaste Tygermatie wat die beurs in 2013 ontvang het.  

Op 22 November 2017 het die reis in Kaapstad begin met ʼn driedaagse toer van die mooiste Kaap. Gedurende hierdie tyd moes elke student ʼn onderwerp aan die groep aanbied en ek het ʼn praatjie oor "Verslawing- en Middelmisbruikversteurings" voorberei.

Ons het op 25 November na Ethiopië gereis, waar ons die Afrika-unie se hoofkwartier besoek en Suid-Afrikaanse afgevaardigdes en ministers ontmoet het wat ʼn handelsberaad bygewoon het. Die volgende dag het ons na Londen vertrek, waar ons by die historiese Goodenough College gebly het, soos "Abes" (Abe Bailey-beurshouers se bynaam) al die afgelope 50 jaar doen.  

Ons het ʼn week in Londen deurgebring, waar ons museums, kastele en kunsgalerye besoek en elke aand verskillende vertonings by die West End-teater geniet het. Die toergroep het parlementslede van die Britse Laerhuis, lords van die Hoërhuis en ʼn Londense burgemeester ontmoet. Sommige studente het selfs die koningin van Engeland ontmoet, maar ongelukkig was ek toe saam met die grootste deel van die groep in Bath.

Die toer was onvergelyklik en geen onkoste is ontsien om seker te maak ons beleef elke aspek van die Britse kultuur nie. Die kos was een van my gunsteling ervarings, aangesien ons die meeste aande driegangmaaltye geniet het. Alles is betaal, insluitend binnestedelike vervoer, toegang na alle terreine en kaartjies vir alle uitstappies. Elke beurshouer het ook sakgeld ontvang, wat my na afloop van die toer in staat gestel het om verder in Europa te reis.

Die volgende week het ons Bath besoek en daarna is ons na Cambridge vir twee dae, waar ons by die Corpus Christi College gebly het. Ons het Oxford ook besoek, waar ons in die beroemde Randolph-hotel gebly en voormalige "Abes" en Rhodes-studiebeurshouers ontmoet het.  

Ons is in die simboliese rooi bus na Stratford-upon-Avon, waar ons die aand na The Tempest gaan kyk het. Ná ʼn lang busrit het ons in Edinburg aangekom, wat ongetwyfeld almal se gunsteling stad was. Die toer het in die Skotse Hooglande geëindig by die asembenewende lodge The Burn, waar ons vier dae lank net ontspan en boeke gelees het. Bedags het ons ook tersaaklike Suid-Afrikaanse kwessies bespreek en na oeroue Skotse forte en "glens" (klowe) gestap.  

Ek was gelukkig genoeg om met geld wat ek van my Abe Bailey-beurs gespaar het ook na Bohemië en Duitsland te reis.

Dit was ʼn lewensveranderende ervaring!

ʼn Spesiale woord van dank aan die Kantore van die Viserektore, die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en veral die Internasionale Kantoor van die Universiteit Stellenbosch dat hulle my hierdie geleentheid gebied het.