Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Blaauw gee leiding aan wêreldliggaam oor wanvoeding
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 08/02/2017

'n Taakgroep is onlangs deur die Globale Leierskapinsitiatief vir Wanvoeding (GLIM) aangewys om riglyne vir die diagnose van kliniese wanvoeding saam te stel vir die uiteindelike globale toepassing daarvan.

Prof Renée Blaauw, hoof van Terapeutiese Voeding by die Afdeling Menslike Voeding aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), is gevra om die Suid Afrikaanse Kliniese Voedingsvereniging (SASPEN), en indirek ook Afrika, te verteenwoordig in dié groep.

GLIM is gestig deur die vier grootste internasionale kliniese voedingsverenigings (ESPEN in Europa, ASPEN in die VSA, FELANPE in Latyns-Amerika en PENSA in Asië) en het ook wêreldwyd verteenwoordigers van nasionale voedingsverenigings, onder andere SASPEN.

"Tans gebruik elke vereniging hul eie riglyne om kliniese wanvoedig in hospitale en klinieke te diagnoseer, en dit maak dit baie moeilik om data wat internasionaal versamel is, te vergelyk. Die taak is nou om die groep te kry om saam te stem oor die riglyne wat gebruik moet," verduidelik Prof Blaauw. Dié riglyne sal dan voorgelê word aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) om te onderskryf.

Dit is egter nie 'n maklike taak nie as gevolg van menigte veranderlikes tussen bevolkingsgroepe soos ras, liggaamsamestelling en hulpbronne beskikbaar. Hoewel daar baie raakpunte vir diagnostiese riglyne is, was die belang van 'n taakgroep om konsensus te bereik egter onderstreep tydens die mees onlangse GLIM-vergadering wat in September verlede jaar in Kopehagen gehou is, luidens dié vergadering se persverklaring. Prof Blaauw beskryf haar rol dus om leiding te bied in die proses van konsensusvorming, eerder as een van leierskap.

"Dit voorgestelde riglyne moet prakties en toepaslik wees in Afrika en Suid-Afrika, veral as dit deur die WGO onderskryf gaan word," sê sy. "Die kontinent het waardevolle insette om te lewer om perspektief te help gee oor die praktisiese sy van kliniese voeding in 'n ontwikkelende omgewing."

Prof Blaauw beskou dit as 'n voorreg asook 'n geweldige verantwoordelikheid om namens SASPEN te kan praat. "Dit is belangrik dat SASPEN en Afrika erken word as 'n gerespekteerde lid van hierdie komitee," sê sy. "Ek sien baie uit na die uitdaging."