Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties Krieket se jongelinge reg vir Varsity Krieket
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 26/01/2017

Met 'n gemiddelde ouderdom van 20 jaar is dit 'n baie jong Steinhoff Maties Krieket-span wat aan die Varsity Krieket-toernooi sal deelneem.

Die derde jaarlikse Varsity Krieket-toernooi – gespeel in Potchefstroom – begin op Maandag 30 Januarie. Agt universiteite speel in die T20-toernooi en die boonste vier spanne sal na die halfeindronde deurdring. Die agt spanne is die verdedigende kampioen Tukkies, die gasheer NWU-Pukke, Maties, UJ, NMMU, UWK, Kovsies en Ikeys.

'n Bouler en Kolwer van die wedstryd sal na afloop van elke kragmeting aangewys word. Daar sal ook 'n Bouler en Kolwer van die toernooi wees. Die Kragspel Plus is 'n opwindende Varsity Krieket-innovasie en sal weer in 2017 gebruik word. Alle lopies binne hierdie tydperk sal verdubbel word. As 'n kolwer egter sy paaltjie in dié kragspel verloor, sal vyf lopies afgetrek word.

Maties het in die finaal van die eerste toernooi gespeel, en het verlede jaar in die halfeindronde verloor. Hulle begin hul veldtog teen verlede jaar se finalis UWK.

Maties se kaptein, Gerhard Erasmus, is een van die spelers wat sy Varsity Krieket-debuut sal maak.

"Die Matiespelers wat aan die Varsity-kriekettoernooi gaan deelneem, is baie jonk, maar ons is baie opgewonde oor die geleentheid om onsself te bewys. Die Twintig20-formaat van die toernooi is die regte formaat om dit te doen. In hierdie vinnige en aggressiewe formaat kan jy jouself uitdruk. Met baie energie en 'n paar kalm koppe glo ek ons gaan 'n goeie toernooi hê. Daar is 'n paar spelers wat nie beskikbaar is nie weens beserings, maar ek het die volste vertroue in die diepte van ons groep. Die diepte is te danke aan die harde werk van ons afrigters."

Die halfeindronde en eindstryd is op Saterdag 4 Februarie.

BEPALINGS

Maandag 30 Januarie: UWK

Dinsdag 31 Januarie: Ikeys

Woensdag 1 Februarie: Kovsies, UJ

Donderdag 2 Februarie: Tuks

Vrydag 3 Februarie: NMMU; Pukke