Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kom ons praat padlangs oor taal by die US
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 24/01/2017

Van die belangrikste vertrekpunte van die Universiteit Stellenbosch (US) se nuutste Taalbeleid is dat taal toegang tot die instelling moet bevorder, en die akademiese en beroepsukses van studente en personeel moet ondersteun. In die Matieland van einde 2016 praat prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, padlangs oor taal en die foutiewe aanname dat dié beleid die einde van Afrikaans aan die US beteken

-----------------------------

Telkens as die Universiteit Stellenbosch (US) se Taalbeleid onder die soeklig kom, tree frases soos "die dood in die pot vir Afrikaans" of "Afrikaans op 'n glybaan by Maties" na vore in openbare debatte. Met die nuwe Taalbeleid was dit vroeër vanjaar weer die geval.

Hierdie wanpersepsie moet ons nou finaal die nekslag toedien. Dat die Engelse aanbod uitgebrei word, beteken nie dat die US wegdoen met Afrikaans as onderrigtaal nie. Sommige kritici beweer dat taalaanwending 'n kwessie van Afrikaans óf Engels is, maar die US volg dekades lank al 'n Afrikaans én Engels benadering. Hoe ons dit toegepas, is wel anders as in die verlede.

Taalbenutting kan nie meer bloot in terme van die aantal minute in Afrikaans of Engels per lesing beskryf word nie. Die nuwe Taalbeleid word toegepas binne die US se erkende gemengdeleer-model (blended learning) van tradisionele lesings (sogenaamde talk-and-chalk-metode) aangevul deur

'n kombinasie van interaktiewe kontaksessies, tegnologiese hulpmiddele en intydse tolking. Taaltoepassing is dus nie net gefokus op die lesing self nie, maar op alle leergeleenthede.

Van die belangrikste vertrekpunte van die nuwe Taalbeleid is dat taal toegang tot die instelling moet bevorder, en die akademiese en beroepsukses van studente en personeel moet ondersteun. Taaltoepassing moet ook opvoedkundig-verantwoordbare leer en onderrig vergemaklik. Kortom: die Taalbeleid moet verseker dat geen student weens taalvaardigheid (hetsy ontoereikende Engels of Afrikaans) van die akademiese aanbod uitgesluit word nie; en so ook nie enige personeellid van die werksaamhede van die Universiteit nie.

Verbreding van toegang is 'n goedgekeurde strategiese prioriteit (volgens ons Institusionele Voorneme en Strategie). 'n Beleid van meertaligheid wat effektief uitgevoer word, is een manier om so 'n doelwit te bereik. "Verbreding" beteken egter nie dat Afrikaanssprekende studente, akademici en ander personeel skielik 'n mindere plek aan US het nie.

Natuurlik het die US 'n historiese verbintenis met Afrikaans. Die skenking van Jan Marais was dan juis om 'n universiteit te stig waar Afrikaans naas Nederlands as akademiese taal kon ontwikkel. 'n Mens sou selfs kon beweer dat 'n Afrikaanse universiteit gestig is as teenvoeter vir hoër onderwys in twee koloniale tale, Nederlands en Engels. Dit was bykans 'n eeu gelede. Die US beplan al klaar sy eeufeesjaar, en daar sal gepas aan hierdie erfenis erkenning gegee word. Maar die wêreld, die Suid-Afrika, die hoër onderwys en die studente van 2018 is nie meer dié van 1918 nie.

Hoe sal die nuwe Taalbeleid prakties toegepas word?

Vir voorgraadse modules is Afrikaans en Engels die tale van leer en onderrig.  Waar dit redelikerwys uitvoerbaar en opvoedkundig verantwoordbaar is, sal lesings afsonderlik in Afrikaans en Engels vir groot groepe aangebied word, maar tutoriale en praktika sal studente van albei taalgroepe weer in een sessie saamtrek.

In lesings waar Afrikaans én Engels gebruik word, word alle inligting minstens in Engels oorgedra, aangevul met 'n samevatting of beklemtoning in Afrikaans. Vrae word in dieselfde taal as die vraag beantwoord. Vir eerstejaarmodules sal intydse tolking gedurende elke lesing beskikbaar wees. In verdere studiejare sal tolking op versoek van die fakulteit voorsien word.

Voorgraadse lesings kan in een taal aangebied word net waar die aard van die leerstof dit regverdig, die dosent slegs in een taal kan klas gee, of die klasgroep per stembrief eenparig vir een taal stem. Vir ten minste eerstejaarstudente sal intydse tolking na die 'ander' taal beskikbaar wees.

Studente sal verder in Afrikaans én Engels ondersteun word deur konsultasies in kantoortyd; roetine-tutoriale en -praktika; inligtings- en kommunikasietegnologie ondersteunde leer (klank- en video-opnames); en die dienste van die Taalsentrum.

Alle verpligte leesstof sal beskikbaar wees in Engels en, buiten gepubliseerde materiaal, ook in Afrikaans. US-moduleraamwerke en -studiegidse is steeds in Engels én Afrikaans beskikbaar. In voorgraadse modules word vraestelle vir toetse, eksamens en ander assesserings in Afrikaans én Engels opgestel, en kan studente alle assesserings en geskrewe werk in Afrikaans of Engels voltooi. Die meertalige model ondersteun Afrikaanse studente wat in hul eerste studiejaar nog nie Engels op 'n akademiese vlak bemeester het nie. Teen hul finale studiejaar kan hulle nasionaal en internasionaal meedoen. 

Vir studente met Afrikaans as voorkeurtaal sal Afrikaans ruim en prakties in al drie taalmodusse aangewend word. Hoewel alle inligting ook in Engels oorgedra word, word Afrikaans nie op die agtergrond geskuif nie. Ons vertrekpunt is kennisoordrag deur meer as een taal, ingestel op die behoeftes van studente.

Die US bevorder die akademiese potensiaal van Afrikaans deur onderrig; die uitvoer van navorsing; die aanbied van simposiums; die aanbied van kortkursusse en kursusse in Afrikaans-taalverwerwing; steun aan taalonderwysers en die ontvangs van gasdosente in Afrikaans;  ontwikkeling van akademiese en professionele geletterdheid in Afrikaans; ondersteuning van lees- en skryfontwikkeling in Afrikaans; voorsien van taaldienste soos vertaling, redigering en dokumentontwerp; die ontwikkeling van meertalige woordelyste met Afrikaans as een van die tale, die US Woordfees en die bevordering van Afrikaans deur populêre wetenskappublikasies in die algemene media.

Die US is ook verbind tot die bevordering van isiXhosa, tot die omvang wat dit redelikerwys uitvoerbaar is, deur kortkursusse in basiese kommunikasievaardighede vir personeel en studente, loopbaanspesifieke kommunikasie, dissipline-spesifieke terminologiegidse en fraseboekies.

Hoe word die korrekte implementering van die Taalbeleid verseker?

Fakulteite moet hul Taalimplementeringsplan,  wat strook met die Taalbeleid,  opstel vir goedkeuring deur die Senaat, en dan jaarliks teenoor dié plan verslag doen. Die Viserektor: Leer en Onderrig rapporteer ook die fakulteite se terugvoer jaarliks aan die Raad. Die Raad behou sy oorsigrol en keur die Taalbeleid goed met die instemming van die Senaat.

Hoe weet 'n student in watter taal 'n module aangebied word?  

Fakulteite sal op hul webblad aandui in watter taalsamestelling 'n module aangebied word. Die taalreëlings word ook in die betrokke moduleraamwerke gepubliseer.

Die US is vir sy tweede eeu goed geposisioneer om toeganklik te wees vir die beste van alle studente, óók Afrikaanse studente.

Vir meer inligting: