Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Julle is by die regte plek, sê US-rektor aan nuwelingstudente
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 20/01/2017

"Julle staan aan die begin van die opwindendste reis van jul lewens … Daar bestaan geen twyfel dat julle na die regte plek toe gekom het vir jul lewensveranderende ervaring."

Met hierdie woorde het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier aan die Universiteit Stellenbosch (US), Donderdagaand (19 Januarie 2017) duisende opgewonde nuwelingstudente amptelik as Maties verwelkom. Dié studente het die verwelkomingsgeleentheid saam met hul ouers in die Danie Craven-stadion bygewoon.

Benewens prof De Villiers, het me Delecia Davids, Hoof van Klusterkonvenors, en mnr Pierre Lombard, Hoof van die Primkomitee, die nuwelingstudente en hul ouers toegespreek.

Prof De Villiers het in sy verwelkomingstoespraak die US se vyf kernwaardes te wete empatie, mede-verantwoordbaarheid, uitnemendheid, leierskap tot diens van ander, en innovasie aan die nuwelingstudente verduidelik.

 


Hy het daarop gewys dat wedersydse respek en waardering, en die erkenning van ander se menswaardigheid belangrike kenmerke van ʼn inklusiewe US-gemeenskap is.

Prof De Villiers het nuwelingstudente aangemoedig om die US se waardes te leef en te help om die wêreld ʼn beter plek te maak.

"Julle is die nuwe generasie Maties. Julle moet ons help nuut en vars dink en doen."

Prof De Villiers het ook gesê nuwelingstudente moet erns maak met hul akademiese-, persoonlike- en sosiale lewe en die vele geleenthede wat die US bied ten volle benut.

In aansluiting by prof De Villiers, het me Davids nuwelingstudente aangemoedig om die wonders van hul nuwe omgewing te verken en waarde tot ander studente se lewens toe te voeg.

 

"Dit is jul verantwoordelikheid om hierdie kans te gebruik en ʼn sukses daarvan te maak. Gebruik hierdie geleentheid om jul horisonne te verbreed, na ander te luister en ʼn nalatenskap na te laat," was mnr Lombard se raad aan nuwelingstudente.

 

Hy het gesê hulle moet vasbyt en nie tou opgooi nie.

Die amptelike verwelkoming vir nuwelingstudente duur vanaf Donderdag, 19 Januarie tot Saterdag, 28 Januarie, en akademiese klasse begin op Maandag 30 Januarie.

  • Klik hier  vir die rektor se verwelkomingstoespraak. 
  • Klik hier vir die berig oor die verwelkoming van internasionale studente by die US.
  • Besoek www.sun.ac.za/welkom vir die volledige Verwelkomingprogram.