Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geïntegreerde Krisisdiens met ER24
Outeur: Dr Munita Dunn-Coetzee
Gepubliseer: 17/01/2017

Die geïntegreerde krisisdiens met ER24, in samewerking met die Sentrum vir Studentevoorligting- en ontwikkeling en Kampusgesondheidsdienste, het amptelik Maandag, 16 Januarie begin. Die belangrikste inligting rondom die diens is die volgende:

  • Dit is ʼn 24-uur krisisdiens wat nasionaal vir geregistreerde US-studente beskikbaar is. Stellenbosch Universiteit het ʼn spesiale nommer (010 205 3032) wat gebel kan word in ʼn noodsituasie. Sodra die nommer gebel word, moet die persoon hulself identifiseer as ʼn US student. Die verdere nodige vrae sal dan gevra word voordat die spesifieke diens gestuur word (ambulans / traumaberading, ensovoorts). Die ambulans sal so vinnig as moontlik op die toneel probeer wees.
  • Sou US studente na Bloemfontein reis (byvoorbeeld) vir ʼn sporttoer, of akademiese uitstappie, en ʼn noodsituasie ontstaan, kan hul ook die spesiale nommer skakel en die nodige diens sal in Bloemfontein aan hul verskaf word. Dit is ʼn nasionale diens. Dit geld dus ook vir wanneer studente op vakansie is of vir PSO-studente wat by hul huise woonagtig is.
  • Die SSVO krisisdiensnommer (082 557 0880) word herlei na die ER24-nommer en sal dus dag, en nag, deur ER24 beantwoord word. Deur die dag sal dit terugverwys word na SSVO om te hanteer, indien moontlik (08:00 – 16:00). Snags sal dit deur ER24 hanteer word en na SSVO terugverwys word die volgende oggend, indien nodig.
  • Die diens bestaan uit EMS (Emergency Medical Services), Traumaberading (wat telefonies of in persoon kan wees), asook ʼn 'medical hotline' waarheen studente kan skakel om mediese advies te verkry. As jy byvoorbeeld langs iemand staan wat sukkel om asem te haal, kan jy skakel en hul sal jou raad gee oor wat om te doen in die situasie. Alles kan verkry word op die 010 205 3032-nommer.
  • Wanneer ER24 na ʼn noodsituasie uitgeroep word om die student te stabiliseer, is dit gratis. Eers wanneer die student vervoer moet word, sal daar kostes aan verbonde wees (voorkeur-ER24-tariewe). Dit is vir die student se persoonlike rekening. Die student sal dan vervoer word na die naaste, beste hospitaal – in die geval van ʼn student met mediese fonds (privaat hospitaal) en ʼn student sonder mediese fonds (staatshospitaal).
  • Traumaberading is gratis. Afhangend van die situasie, sal ʼn vroulike of manlike berader uitgeroep word. Die beraders is gemaklik met al drie tale van die Wes-Kaap (Afrikaans / Engels / IsiXhosa).
  • Elke keer wanneer ʼn aanmelding gemaak word by ER24, word dit per sms deurgestuur na sekere SSVO- en KGD-personeel (Kampusgesondheidsdienste). Statistiek sal weekliks oor aanmeldings aan SSVO en KGD verskaf word.

Hierdie is die infasering van ʼn nuwe proses en dit sal groeipyne hê, enige terugvoering word dus verwelkom – mdunn@sun.ac.za .